DIE GROOT OFFER...
 

Die verhaal van John Griffith, operateur van die Spoorweë se valbrug oor die Mississippi-rivier in die VSA, word vir die waarheid vertel.
Dit was in die somervakansie van 1937 en John het die dag sy agtjarige seun, Greg, saam met hom werk toe geneem. Vir klein Greg was dit 'n fassinerende ervaring om te sien hoe sy pa smiddae om 12:00 die meganisme aanskakel wat die valbrug waaroor 'n treinspoor geloop het, ophys sodat die skepe onder in die rivier kon deurvaar. Die brug met die treinspoor kon in die middel oopmaak en na die kante opgelig word om die skepe onder deur te laat.
John en Greg is daarna na die observasietoring om die skouspel dop te hou terwyl hulle middagete geniet. So met die dophou van die skepe het die tyd verbygevlieg.
Skielik is John na sy werk-situasie teruggeruk toe hy 'n trein veraf hoor fluit. Hy het op sy horlosie gekyk - dit was 13:07.
Die Memphis-sneltrein met 400 passasiers het aangesnel gekom na die spoorwegbrug wat nog steeds opgehys was vir die skepe se deurtog.
Griffith is inderhaas weg na die beheertoring om betyds die brug te laat sak sodat die trein veilig die rivier kon oorsteek oor die treinspoor op die brug.
Net voor hy die hefboom trek om die brug weer in plek te plaas, kyk hy vir oulaas of daar geen skepe aankom nie. Toe vang sy oog 'n beweging wat sy bloed laat stol. Sy seun het blykbaar te ver oorgeleun om na die skepe daar onder te kyk en oor die reling van die toring geval - reg in die massiewe ratte wat die brug laat werk. Greg se linkerbeen was vasge-vang en hy kon nie wegkom nie. Sy pa kon hom nie betyds bereik nie. Terwyl hy magteloos die trein sien nadersnel, maak Griffith die verskriklikste keuse van sy lewe!
Toe bedek hy sy oë met sy linkerarm en met die ander hand trek hy die beheerhefboom. Die massiewe valbrug sak in plek sekondes voordat die Memphis-trein met sy honderde passasiers die brug bereik.
Toe John Griffith sy kop optel, was sy gesig nat van sweet en trane. Deur die vensters van die verbysnellende trein sien hy die passasiers sit - gesellig geselsend, besig om koerant te lees, na-ete-koffie te drink, aan kaas en beskuitjies te peusel. Niemand het eens in die rigting van die beheertoring gekyk nie.
Met 'n pynverwronge stem het John Griffith glo geskreeu: "Ek het my seun vir julle geoffer! En julle drink koffie!" Sou God dit soms van ons ongeërgde dissipelskap sê?
Uit: Stories vir die Lewe Omnibus, Piet Naudé, Lux Verbi-BM, 1998-1999.

Indeks     Index