JESUS HET TYD VIR JOU
  Die afsterwe van 'n geliefde het die vermoë om die naasbestaandes tot stilstand te ruk. Ons andersins besige lewe in hierdie moderne tyd het maar min ruimte vir die nood van ander. Ons is mos só besig! Daar is só baie dinge om te doen! Die lewe spoed soos ‘n mallemeule voort. Ons word as't ware só in die momentum daarvan vasgevang dat ons moeilik daaruit kan ontsnap! En hoe vinniger dit gaan, hoe minder kry ons klaar met wat ons het om te doen. Dan kom daar 'n ingrype in ons lewensbestaan - soos met 'n begrafnis. Alles kom tot stilstand. Ja, selfs ook die aller-belangrikste dinge waarmee ons so besig was. Kry ons dán dalk so 'n bietjie ewigheids-perspektief?
Jesus het vir ons kom wys hoe om te lewe. Alhoewel Hy relatief min tyd gehad het om te doen wat Hy moes doen (ongeveer drie jaar van aardse bediening), het Hy tyd gemaak vir die belangrike dinge.
Belangrike dinge was nie dinge nie, maar mense! Hy het die mens in sy nood raakgesien. Hy was ingestel op die noodroep van die individu. Met tye was daar ongeveer 15 000 tot 20 000 mense wat Hom gevolg het (Vergelyk bv. die vermeerdering van die brode (Joh. 6:10) waar 5 000 manne teenwoordig was. Voeg die vroue en kinders by). ‘n Aansienlike skare verdring Hom en die blinde roep: “Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!” (Mark. 10:47). Ten spyte van die baie mense wat gesê het dat hy moet stilbly, het Jesus gaan staan om hom in sy nood te help! 'n Weduwee, sonder sorg, desperaat, in droefheid, is op pad om haar enigste seun te gaan begrawe (Luk. 7:11-17). Ten spyte van die groot menigte saam met Hom, gaan staan Hy stil en raak die baar aan. Hy voel innig jammer vir haar en sê “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” En kyk, haar seun lewe!
Talle ander het Jesus se medelye ervaar. Individue wat Hom nodig gehad het. Hy het hulle nood raakgesien en daarin voorsien. Saggeus hoor: “Maak gou en klim af, want Ek gaan by jou huis eet!”
Die sondares wat die voete van Jesus gewas het, hoor: “Jou sondes is vergewe!”
Die besetene van Gadara wat tussen die grafte gewoon het, word bevry en hy hoor: “Gaan terug na jou huis en vertel watter groot dinge God aan jou gedoen het.”
Die vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, raak die soom van Sy kleed aan en hoor: “Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
Die vrou wat in owerspel betrap is, hoor: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”
Elke mens wat wil luister, sal Jesus vandag nog hoor roep: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28).
Jesus roep steeds: “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17).
ONTHOU, JESUS HET TYD VIR JOU!
HET JY TYD VIR HÓM?

Indeks     Index