WEES STIL EN AANSKOU MY WONDERS | |
  |
![]() AGS Hartsion Gemeente, Bapsfontein AGS Hartsion Gemeente, Bapsfontein, het op 9 April 2005 'n nuwe kerkgebou ingewy. Ons kan egter nie van die inwyding van ons nuwe kerkgebou praat sonder om eer aan God te bring en te getuig van Sy groot wonders nie! Met ons beroep hierheen in Julie 1998 het God gesê: "Staan stil en aanskou My wonders." Min het ons besef wat hierdie woorde sou meebring! Ons was skaars op Bapsfontein of die kerkie word te klein. Ons het dit vergroot en 'n saal aangebou. Kort daarna het 'n vreemde man vir die gemeente 'n kleinhoewe geskenk. Teen 'n appel en 'n ei het ons nog 'n plot gekoop vir 'n tweede pastorie. Dit alles binne twee jaar! Om alles te kroon het God met ons begin praat oor die bou van 'n nuwe kerk - in 'n tyd toe dit finansieel baie moeilik met ons gegaan het. Ons was onseker en bang. Met minder as 200 lidmate en 'n swak inkomste kon ons nie sien hóé nie! Van 19-26 September 1999 het ons 'n Loofhuttefees in 'n groot tent gehou nie ver van ons kerk nie. Gedurende daardie week brand 'n vuur uit 'n groot boom se stam op die plot langs ons kerk. Die vuur het vir drie dae gewoed sonder om kleiner te word en dit terwyl dit aanmekaar hard gereën het! Menige se gevoel rondom hierdie vreemde verskynsel was dat God daardie grond vir ons sou gee. 'n Jaar later nader 'n agent my man en vra hom of ons nie daardie plot (waar die vuur gebrand het) wou koop vir R30 000 nie. Ons kon R10 000 deposito gee en die res afbetaal. Ons het natuurlik nie die geld gehad nie en vra hom om die volgende middag te kom sodat ons die saak verder kon bespreek. Daardie dag het ons gebid dat as dit God se wil is, Hy vir ons R10 000 sal gee voor ons die agent weer te woord moes staan. Die volgende oggend vroeg was daar 'n klop aan die voordeur. 'n Man het daar gestaan en gegroet met hierdie woorde: "Môre Pastoor, God het gesê ek moet R10 000 kontant vir jou gee, jy sal weet wat om daarmee te maak." Ons het die grond gekoop en op 12 Maart 2001 is dit op die kerk se naam geregistreer! Daarna dring die Here my man om te begin bou, maar hóé kon ons? Ons inkomste betaal skaars die nodige; inteendeel, die gemeente-rekening is oortrokke en dit gaan sleg! Uit die bloute skenk 'n persoon ons 'n donasie van R50 000! Die Here het aan hom getoon dat ons iets groots gaan aanpak. Hy het nie geweet ons worstel in ons harte met 'n voornemende bouprojek nie! Ons het Lars Franszen, 'n argitek, genader vir die teken van bou-planne en in stilte gebid dat hy nie te duur sou wees nie! Dié man en sy vennoot besluit toe om in God se Koninkryk te saai en die projek verniet aan te pak! Hulle ontwerp die pragtigste kerk biddend, onder die leiding van die Heilige Gees. Ons het uitgevind dat R50 000 nie lank in die boubedryf hou nie! Uit desperaatheid bid my man: "Here, gee my 'n teken VANDAG! Moet ons aangaan of nie?" Daardie selfde dag doen my man 'n roetinebesoek by 'n lidmaat wat vir hom sê: "Pastoor, God het vir my gesê ek moet R500 000 skenk vir die bouprojek. Ek het dit nie, ek weet ook nie hoe ek dit gaan kry nie, maar ek onderneem om dit te gee." Hy het die volle bedrag binne twee maande gegee! PRYS DIE HERE!!! Die voorbereiding van die grond was agter die rug en ons het begin met die fondament. Toe dit klaar was op 9 Maart 2003 het ons gemeente daarheen beweeg om God te loof en dank. My man het binne-in 'n sloot geval en vier sterk, skerp ysterpenne met 'n haarbreedte gemis! Daar het ek besef die duiwel is kwaad, maar ook dat God se Hand my man beskerm het. Ek het huis toe gegaan met gemengde gevoelens en God gesmeek om weer eens duidelik met MY te praat oor Sy wil rondom die bou van die nuwe kerk. Daardie middag praat Hy met my uit 1 Kronieke 22:11-19: "Maak julle gereed en bou die heiligdom van die Here God, moenie bevrees wees nie, wees sterk en vol moed, alles wat julle sal benodig, silwer, goud, klip, hout, sand is daar in groot hoeveelheid. Maak jou klaar, gaan aan die werk en mag God met julle wees!" Ons besluit toe daar en dan ons gaan NOOIT weer twyfel nie! Die staalkonstruksie is opgerig, maar ons fondse was uitgeput. Die bouprojek het stilgestaan! Ons het gebid, ons het die Here herinner aan Sy beloftes, maar kon nie aangaan nie, want daar was eenvoudig net nie geld nie! Op 10 April 2003 roep my seun my na buite. Oor altwee kerke (die oue en die nuwe) was daar 'n duidelike, helder reënboog. Terwyl ek foto's neem, word ek bewus van die feit dat 'n reënboog ons herinner dat God nie Sy beloftes vergeet nie! Vol moed glo ons dat al gaan dit hóé sleg met ons finansies, God sal ons nóóit in die steek laat nie! Deur die genade van die Here het ons bouprojek weer begin aangaan. Op 'n dag moes ons 'n vrag sand koop vir die pleisterwerk. Ons het nie R560 gehad om dit te doen nie. Ons het ernstig gebid vir die geld, maar niks gekry nie. Teen 11:00 let my man op dat die pleisterwerk aangaan en hy wonder hoe dit moontlik is! By die kerk het die manne vir hom baie opgewonde vertel dat dit die beste sand was wat hy ooit gekoop het! Waar sou hierdie sand vandaan kom? Ons het dit nie bestel nie! 'n Week later ry 'n man by die erf in en stel homself voor. 'n Paar plotte verder is hy besig om sy huis te bou. Hy het sand bestel wat nooit by hom uitgekom het. Dit is foutiewelik by ons afgelaai, maar hy saai dit graag in God se Koninkryk! Op 17 Februarie 2005 het my agtjarige dogter gelê en slaap. Sy het skielik wakker geword en vir my gesê: "Mamma, maak nou dadelik jou Bybel oop en kyk wat wil die Here vir jou sê." Toe slaap sy weer. Ek het my Bybel oopgemaak by Esra 7:20 - "If you run short of money for anything necessary for your God's temple or for any similar needs, you may requisition funds from the royal treasury" (New Living Translation). Jesus is die Koning van alle konings! Meer “royal” as dít kan jy nie kry nie! Die “rekwisisie-vorm” is “ingevul” vir R500 000 (matte en kombuiskaste uitgesluit). Ons het net die heel nodigste gevra. Op 1 Maart 2005 trek ons geld uit die boufondsrekening, wetend dat daar net R1 000 sal oorbly. Tot ons verbasing sien ons daar is R46 000 in die rekening inbetaal deur 'n anonieme skenker! Op 1 April 2005 kort ons R23 000 vir stoele wat die volgende dag afgelewer sou word. Daardie aand betaal 'n weldoener die bedrag in ons rekening via die internet. Die Here vertraag die aflewering totdat ons die tjek kon uitskryf! Een week voor die inwyding wek die Here ons lidmate op wat soos besige bye in en uit die gebou zoem - elkeen besig met iets spesifiek. Dis 'n gewerskaf! Party plant gras, ander help die loodgieter, vensters word gewas, deure word gehang, kombuis-kaste word ingesit, vloere word geverf en mense “saai”! Matte word “gesaai”, 'n volledig toege-ruste kombuis word “gesaai”, spieëls, vensters, blompotte en rekenings word betaal! God gee meer as wat ons ingeskryf het op ons “rekwisisievorm”! Op 9 April 2005 word ons nuwe kerkgebou met groot trots ingewy, want alles is van die beste. Ons kyk na daardie R5 miljoen-gebou en sê: “Wáárlik, dit is net GOD wat dit alles moontlik gemaak het! Ons het nie die vermoë of die geld gehad om dit te kon deurvoer nie, maar ons getroue Vader wat Sy beloftes hou, het ons gehelp om dit alles sonder skuld te doen! AAN GOD AL DIE ERE, HY HET WONDERS GEDOEN!!!” Soela Swanepoel, Pastoorsvrou, Bapsfontein. (011) 964 1894 of 083 468 4066 |