KALAHARI-SENDING | |
  |
![]() Handelinge 13:47 - “Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” My naam is Chris Wheeler en die Here het my gelei om betrokke te raak by “Word to Africa” in Botswana (WTAB). Ek is reeds die afgelope 3 jaar deeltyds betrokke by WTAB, maar het Oktober 2005 my IT-pos by 'n selfoonmaatskappy bedank en voorbereidings begin tref om voltyds betrokke te raak. Ek het deur die jare reeds Bybelskool- en Sendingopleiding gehad. “Word to Africa” se hoofkantoor is in Lobatse en daar is reeds 30 Sendingstasies in die mees afgeleë dele van Botswana. Ons glo om gemeentes te plant in plekke waar daar geen Christelike Kerk is nie om sodoende die Evangelie te neem na onbereikte mense. My area is die sentraal-provinsie, net oos van die Sentraal Kalahari- wildreservaat. Ek moet kerke gaan plant oor die hele area, opleiding gee en die gemeentetjies help ontwikkel. Daar is omtrent 400 veeposte in die omgewing met 15 tot 20 mense per veepos. (Die meeste van hulle het nog nooit die Evangelie gehoor nie). Die Regering van Botswana het verskeie dorpies begin om die Boesmans wat uit Sentraal Kalahari verwyder is na die ontdekking van diamante, te huisves. Die area is as Wildreservaat verklaar en die Boesmans kon nie meer jag en tradisioneel lewe nie. Die dorps-lewe het hulle van hul kultuur beroof. Elke gesin kry ‘n voedsel-pakkie en ‘n klein toelaag elke maand. Dit lei tot ledigheid want hulle het nie nodig om te werk nie. Hulle weet nie hoe om te boer nie en het geen opleiding gehad om enige ander werk te doen of met geld te werk nie. Dan word daar maar Chibuku gedrink. Dronkenskap volg, asook siektes soos VIGS. Ek is nou betrokke by so ‘n dorpie. Moralane is omtrent 40 km wes van Soshong. Daar is ‘n laerskooltjie en dagkliniek. Water kom uit ‘n boorgat, maar daar is geen elektrisiteit nie. WTAB het ‘n perseel van 60x60 m gekry en het reeds ‘n staalstruktuur opgerig. Ons het nou ook water op die perseel beskikbaar. Daar is reeds ‘n klein gemeentetjie maar nog baie werk lê voor. Ek het onlangs ‘n heining gaan span sodat ons die perseel beter kan ontwikkel. Ek wil graag die mense leer om groente-tuine te plant (beesmis is volop). Baie van die kindertjies is onder-voed omdat die ouers te dronk is om vir hulle te sorg. Moralane is ook die deur tot baie veeposte in die omgewing. Om die basis te ontwikkel, benodig ons hulp van Christene in SA. Die perseel moet ontwikkel word. Sonpanele kan krag voorsien, sementstene kan aangekoop of gemaak word, tweerigting-radio’s kan vir kommunikasie met die buitewêreld sorg en boumateriaal is nodig. Voedsel en klere is nodig vir die gemeentelede (veral die kinders). My tuisgemeente in Pretoria is ook betrokke en ons het reeds begin om ablusiegeriewe op te rig en die herder wat op Moralane na die gemeentetjie omsien, te onder-steun. Ons het in die begin van 2006 die probleem gehad dat die klein kindertjies so siek geword het dat oor die 400 babatjies en kleuters in Botswana gesterf het. Die vrouens het hulle siek kindertjies na ons gebring en ons het vir hulle gebid. Ek is bly om te kan getuig dat sover ek weet ons geen kindertjies in Moralane verloor het nie. Die meeste van hulle was die volgende dag gesond! Ons gee Jesus die eer! Ek het ‘n 4x4 voertuig nodig om die veeposte te bereik asook radio- toerusting, ‘n GPS-toestel, kampeertoerusting , ens. Indien die Here op u hart lê om betrokke te raak by die groot werk onder die Boesmannasies, kontak my of die WTAB in Lobatse gerus. Ons nooi Kerk- en jeuggroepe om by ons te kom besoek aflê. Dit help om self betrokke te raak in die Sendingveld. Mense se lewens verander wanneer hulle sien hoe hul betrokkenheid ‘n verskil kan maak. Sommige jongmense ontvang hul roeping van die Here met so ‘n uitreik. Ons benodig werklik mense wat ons sal bystaan. Kontakbesonderhede: Chris Wheeler Sel: 0847775196 Posbus 14737 Sinoville 0129 E-pos: chriswheeler@absamail.co.za Word to Africa kantoor: 09267 5333974 E-pos : wtabadmin@botsnet.bw Webwerf: http://www.wtab.org Bankbesonderhede: CJ Wheeler ABSA Sinoville, Takkode: 632005 Tjekrekeningno. 40-5571-4210 |