PORTUGAL-SENDING
 

SENDELINGE-KONFERENSIE
Die Sinodale Kommissie vir Sending in Europa het ‘n wonderlike en inspirerende Konferensie in St. Albain, Frankryk, gereël. Afgesien van die baie sendelinge wat in Frankryk werk, was Londen en Portugal ook verteenwoordig. Ons kon baie leer by die vasbyters wat al vir soveel jare in seker een van die moeilikste sendingvelde werk.
Die rou ateïsme van Frankryk en Spanje is skokkend. Portugal is op dieselfde pad as daar nie geestelike vernuwing plaasvind nie.
Kinders is egter baie ontvanklik vir die Evangelie en baie suksesvolle werk word gedoen. Dit het reeds op die stigting van gemeentes uitgeloop in Frankryk.
Die opmerking is gemaak dat ons nie net negatief oor Europa moet wees nie. Mense kom tot bekering en gemeentes groei. Die Heilige Gees is dus werksaam.
Werk onder Suid-Afrikaners in Londen is ‘n wonder van die Here. Dis interessant hoe die Here mense wat in die kerk grootgeword het, nuut aan Hom bind in ‘n vreemde milieu.

MOEDERSDAG IN MASSAMÁ
Moedersdag word sterk gevier in Portugal. Daar is baie emosie aan verbonde en Dona Alda het met groot ywer kaartjies met foto’s van elke kind en blomme vir die moeders gereël. Die oudste en die jongste moeder het elk ‘n mooi bos rose gekry en die kerk was propvol! Ons sê dankie vir nog ‘n geleentheid waar mense die Woord kon hoor en 'n positiewe en vrolike ervaring as Liggaam van Christus kon deel.

PIEKNIEK
Verlede Sondag kon die gemeen-te sy 21ste verjaardag vier. Die buurgemeente se Brasiliaanse Pastor het ‘n baie Gereformeerde boodskap op treffende wyse gebring (Joh.15.16).
Na die diens is ons in ‘n streep oor die Tagusrivier waar daar met oorgawe vleis gebraai en piekniek gehou is. Die dag is afgesluit met die volgepakte Moita-diens. Die sang was so dawerend dat verbygaande mense en kinders stilgestaan het voor die deur.

DANK EN VOORBIDDING
Dank die Here vir bogenoemde geleenthede.
Bid vir voortgaande vrug en die Heilige Gees se werking.
Bid vir die Pinkster Bidprogram wat die Globale Biddag, Sondag 4 Junie (vir die eerste keer ook in Portugal), voorafgaan.
Dit bly altyd die moeite werd om God se werk te ondersteun. Ons werk met die oog op die laaste dag waar die grootste globalisering ooit sal plaasvind as elke knie sal buig voor Jesus die Koning!
Manie en Annelie Taute
Stuurgemeente:
NG Potchefstroom-Noord
Kontakpersoon in Suid-Afrika: Madelein Bodemer
(018) 2977850
Bankrekening: NG Kerk Potchefstroom-Noord: Portugal Sending, Tak: ABSA Tomstraat, Potchefstroom Takkode: 335138,
Rek. Nr.: 4061419137
E-pos:
portugal@ngnoord.org.za

Indeks     Index