ZEMPHYRA SE WONDERWERK
 
Zemphyra Grigorian woon in 'n karig gemeubileerde woonstelletjie in Stepanakert, 'n dorpie in Nagorno-Karabakh, in die suidweste van Azer-beidjan. Die eerste ding wat 'n besoeker hier opval, is die warm glimlag waarmee sy jou begroet en dan is dit ook onmoontlik om eenkant op die tafel die Bybel, wat duidelik baie gebruik word, mis te kyk. 'n Huis wat, so vertel sy, aan die Here gewy is en waar daar elke dag uit die Bybel gelees word.
Dit was egter nie altyd so nie. Die gebied waar sy woon, is deel van 'n langdurige geskil tussen Azerbeidjan en Armenië oor besitreg. Twaalf jaar gelede het Zemphyra, 'n Armeniër, haar man in een van die onluste verloor.
Sy vertel self: "Die wêreld het donker geword die dag toe my man dood is. My lewe het aan skerwe gelê en ek het almal gehaat. Ek het net aan my man gedink en het niemand toegelaat om eers in my teenwoordigheid te glimlag nie. Waar ek werk, is Azeri-krygsgevangenes aangehou. Ek het hulle intens gehaat en wou nie eens vir hulle kos of water gee nie.
"Eendag, op my pad huis toe, hoor ek 'n vrou sing van Jesus se liefde en dat Hy die Een is na wie 'n mens moet gaan as jy beswaard is. Hy is die enigste Een wat verlossing bring en sondes vergeef. Die vrou het my opgemerk, geglimlag en genooi om saam met haar kerk toe te gaan.
"Daar in die kerk het my hele lewe verander. Die predikant het uit die Bybel voorgelees oor die ewige lewe en dit toe verduidelik. Ek het ervaar hoe die lig van Christus die duisternis uit my lewe verdryf! Vir die eerste keer in 'n baie lang tyd was ek gelukkig en het ek gevoel dat ek weer die mense om my kon liefhê, ook daardie krygsgevangenes."
U bydrae aan die Bybelgenootskap help om Bybels beskikbaar te stel aan duisende mense in wie se lewens, soos in die geval van Zemphyra, die lig van Christus nog die duisternis moet verdring.
Die Bybelgenootskap van SA, Posbus 5500, Tygervallei, 7536. Tel: (021) 910 8777
Faks: (021) 910 8799
E-pos: biblia@biblesociety.co.za
www.bybelgenootskap.co.za

Indeks     Index