GOD PRAAT UIT 'N "ASBLIK"!
  Tina Potgieter 082 755 3353
of 057 451 3620 (van 17:00 - 07:00).

Na twee gewapende rooftogte in die Oos-Rand en Pretoria het ons gebid en die Here gevra: Waarheen nou? Ons hoor van Allanridge, gaan kyk en vind die mooiste, veiligste dorpie. Ons "spoel" soos die apostel Paulus uit op die eiland, Milete (Allanridge). Gou het ons egter agtergekom hoe groot die nood, die ellende en behoefte op hierdie dorpie is. Op 'n dag - baie moedeloos - stap ek in die hoofstraat in Welkom. Iets in 'n asblik trek my aandag. Ek lees: "MET MY EIE HAND RED EK JOU…" Ek stap nader en trek die Junie 2007-uitgawe van "Goeie Nuus" uit die asblik.
Met groot afwagting begin ek lees en net daar, onmiddellik, besef ek dat die Here ons waarlik met 'n doel na Allanridge gestuur het.
Opnuut druk die Heer die geweldige nood en behoeftes van Allanridge se mense op my hart. Hier is so baie siek mense, arm mense, pen-sioenarisse, werklose mense (van die mynbedrywighede het al gesluit), gebroke mense. Jongmense leef in 'n somber atmosfeer en het nie opbouende aktiwiteite om hul mee besig te hou nie.
Die myn het vir ons 'n plekkie geskenk waar ons dienste kan hou. My man en skoonseun bedien die mense. Die behoefte aan Bybels, geestelike leesstof, Sondagskoolbenodigdhede, CD's en DVD's is geweldig groot. Daar is ook 'n groot tekort aan kos, klere en vervoer vir baie mense. Tydens die koue winter verskaf ons kos aan baie mense en komberse en warmwatersakke is broodnodig.
Indien daar mense is wat ons kan help met bogenoemde, asook musiekinstrumente en 'n klankstelsel vir die kerkie sal ons dit só waardeer. Ons benodig ook 'n voertuig om oumense, jonges en Sondagskoolkinders aan te ry na die dienste. Baie dankie dat u vir ons bid en moontlik u weg sal oopsien om ook te help in die nood wat ons hier ondervind.
Pastoor Timo en Tina Potgieter (082 755 3353).
(Ons skoonseun, pastoor Frank Janssen, is ook 'n Gospelsanger en is beskikbaar vir optredes. U kan hom gerus kontak by 072 388 2555 of 057 451 3278).
[In die ekonomie van God bestaan daar nie so iets soos vermorsing nie. Wat een persoon geringskat, gebruik Hy om 'n ander een regop op haar voete te laat staan: versterk, vertroos en verryk!
Iemand het die "Goeie Nuus" weggegooi, MAAR GOD het dit gebruik om hierdie vrou aan te raak en te bemoedig om haar opnuut te wy aan die taak waarvoor Hy hul gesin geroep het na Allanridge! As dit vir u enigsins moontlik is, help asb. hierdie mense om hul roeping onder baie moeilike omstandighede uit te leef. Red.].

Indeks     Index