DIE VOLHARDING VAN HOOP | |
  |
Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus" (1 Tess 1:2-3). Lees 1 Tessalonisense 1:1-10. In hierdie tyd waarin wanhoop rondom ons te sien is, is dit selfs vir Christene moeilik om aan te hou hoop op Jesus Christus. Daar is soveel dinge wat ons ontmoedig en ons geloof wil laat wankel: hongersnood wat toe-neem; hulpbronne wat al hoe meer uitgeput word; die groeiende kanker van armoede; MIV en vigs wat onstuitbaar is; die kanker van misdaad; die bedreiging van terrorisme. Hoe leef 'n mens met jou voete op hierdie aarde, maar klou terselfdertyd vas aan jou hoop in Jesus Christus? Baie mense slaag nie daarin nie. Hulle hoop op 'n beter toekoms onder die heerskappy van God as Koning, maar hul hoop fluktueer saam met die heersende omstandighede. Jesus het egter belowe dat Hy weer sal kom. Ons moet aan hierdie belofte vashou, in die hoop dat Hy enige dag kan terugkeer. Ons moet bly glo dat Hy met krag en heerlikheid sal kom. Maar soms lyk dit vir ons asof die Bose vandag seëvier. Dit lyk vir ons of die boosheid so handuit ruk en so magtig is dat dit vir ons al hoe moeiliker word om aan te hou hoop. Ons hoop mag egter nooit bepaal word deur die omstandighede wat rondom ons heers nie. Ons hoop moet gevestig wees op die onwrikbare beloftes van God en Sy finale oorwinning oor die Bose. Hoe lank dit ook al mag neem voor daardie dag aanbreek, ons kan vandag al ons hoop daarop vestig. Geweldige prestasies is moontlik vir dié wat volhard in hulle hoop en nie moed opgee nie. Hulle kyk verby die daaglikse probleme en sien die heerlikheid en almag van die triomfantelike God. Gebed: God van genade, gee dat U kinders oral op hierdie wanhopige aarde hoop sal versprei! Dié wat met hoop leef, dans sonder musiek. - GEORGE HERBERT Uit: Wandel Digby Christus, Solly Ozrovech, Lux Verbi.BM |