DIE KERK VAN JESUS CHRISTUS KAN NIE VERNIETIG WORD NIE! | |
  |
Omdat die Kerk op die ROTS gebou is, kán dit nie vernietig word nie. In Matt. 16:15 vra Jesus aan Sy dissipels: "Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord: 'U is die Christus, die Seun van die lewende God.' Daarna het Jesus gesê: “Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is." (Matt. 16:15-20). Wat of Wie is die Rots waarop Jesus Sy Kerk bou? Jesus vervolg: "En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus (Grieks = Petros, wat 'n stukkie van 'n klip of klein klippie beteken), en op hierdie rots (Grieks = Petra, of rotsformasie) sal Ek My gemeente bou." Eers sê Petrus: "U is die Christus", waarop Jesus ant-woord: "Jy is Petrus." Dan vind hier 'n woordspeling plaas. Jesus sê in effek vir Petrus: "Jy is 'klein klippie', en op hierdie 'Rotsbank' of 'Rotsformasie', op hierdie mega-openbaring wat die Vader jou gegee het van Christus, van MY, sal Ek My Kerk bou." Dit is dus nie Petrus wat die rots is nie, maar die belydenis wat hy uitgespreek het t.o.v. Christus. Om egter nog méér spesifiek te wees, dit gaan oor die inhoud van die belydenis soos die Vader dit aan Petrus geopenbaar het. Dit is m.a.w. die lewende Christus wat hier ter sprake kom, nie 'n dooie rituele belydenis nie. In Luk. 6:47-48 sê Jesus: "Elkeen wat na My toe kom en na My woorde luister en dit doen - Ek sal julle wys soos wie hy is. Hy is soos 'n man wat 'n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots (Petra) gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots (Petra) was. Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos 'n man wat 'n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot." Die waterstrome, winde en storms kon die huis van die eersgenoemde man nie vernietig nie, omdat sy fondament op die Rots (Petra, Christus) gebou was. Die duiwel is die vyand van die Kerk. Daarom het hy deur die eeue heen gepoog om die Kerk te vernietig. In hierdie verband kan na verskillende momente in die Kerkgeskiedenis gekyk word: Die vyand het gepoog om die Kerk te vernietig, eerstens, deur die Kerk te vervolg. Maar die gelowiges se oorwinningskreet het weergalm: "Die bloed van die martelare is die saad van die Kerk!" Vervolgens het die vyand gepoog om die Kerk te oorweldig deur valse leerstellings, Kerkskeuring, ketters, en selfs deur gelowiges teen mekaar af te speel d.m.v. verdeeldheid en deur gebruik te maak van verskille tussen gelowiges of verskille in verskillende Kerk-denominasies, asook louheid. Die vyand het selfs gepoog om positiewe gebeure teen die Kerk in te span, soos toe die Kerk erkenning gekry het gedurende die tyd van keiser Konstantyn se heerskappy. Hierdie erkenning het gelei tot materialisme, trots, 'n soeke na posisie, verwêreldliking, afvalligheid, en talle ander negatiewe dinge toe die Kerk Staatskerk geword het. Nogtans het die "poorte van die doderyk" die Kerk nie oorweldig nie! Ongeag die feit dat ons in 'n gebroke wêreld woon, die plek waar Satan die god van hierdie wêreld is (2 Kor. 4:4) en die hele wêreld in die mag van die bose lê (1 Joh. 5:19), is die Kerk na meer as tweeduisend jaar nog nie oorweldig of vernietig nie. Jesus het ook gesê: "En niemand sal hulle uit My hand ruk nie" (Joh. 10:28). Paulus skryf: "…omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus" (Fil. 1:6). En om by Gamaliël aan te sluit: "…as hierdie voorneme of hier-die werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie" (Hand 5:38-39). Juis híér kom die werk van die Heilige Gees aan die lig. Dit is God wat déúr die Heilige Gees Sy Kerk in stand hou. In Kol. 1:17-18 skryf Paulus: in Jesus "hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die Liggaam, naamlik die gemeente…" Dit is daarom ook duidelik dat die Kerk een van die dinge is wat deur Hom in stand gehou word. Die "poorte van die doderyk" het nog nooit, en sal tot in ewigheid nooit die Kerk kan vernietig nie, want dit word deur Jesus Sélf op Hómself, die vaste Rots gebou! Elkeen wat 'n lewende belydenis van die Lewende Christus het, word deur Hom Persoonlik op die onwankelbare Rots gebou. Is jy op die ROTS gebou? |