GOD ROEP ONS NA BURUNDI! | |
  |
Die passie in Tim van Aarde se stem is duidelik hoorbaar. Hy is opgewonde oor die vooruitsig om binnekort na Burundi te vertrek waar hy DV voltyds sendingwerk gaan doen. Burundi is 'n land wat verwoes is deur jare se burgeroorloë. 'n Land wat nou uiteindelik vrede het. 'n Land wat ryp is om God se genade en seëninge te ontvang. Burundi het vanaf 1965 - 2005 deur verskillende burgeroorloë gegaan. Die laaste en grootste burgeroorlog het begin met die volksmoord in 1993. Dit was ook die verwoestendste van almal. Tim het verlede jaar sy studies aan die Teologiese Seminarium in Potchefstroom voltooi. Sy goeie vriend, Ruben Safari, afkomstig van Burundi, het saam met hom by die Noordwes-Universiteit studeer en hom algaande vertel van die nood van die Kerk in Burundi. Uiteindelik was hy seker dat die Here hom na Burundi as sendeling roep. Tim is intussen getroud met Jeanette. Die twee deel dieselfde sendingpassie. Oral het vriende die egpaar aangemoedig om sendelinge te word. Maar waar begin 'n mens? Dit is tog goed dat die Kerk jou uitstuur en ondersteun! Tim het gehoor van die NG Kerk Miederpark se bereidheid om sendelinge te ondersteun en te begelei. Kort daarna het hy by ds. Willem om hulp aangeklop. Die Sendingbediening van Miederpark het sy aansoek oorweeg en goedgekeur. Die lang pad sou nou begin om Tim op die sendingveld te kry. Die taal en kultuur van die land moes aangeleer word, 'n ondersteuningsbasis moes opgebou word, Burundi moes besoek word om die geestelike leiers van die land te ontmoet en die spesifieke behoeftes te bepaal. Kruiskulturele oplei-ding moes ontvang word. Tim en Jeanette het hulle intussen by Kwamhlanga gaan vestig, waar hul kruiskulturele bloot-stelling begin het in die Muhkanyo Teologiese Skool. Tim is aangemoedig om 'n netwerk van gemeentes te kry wat hom ondersteun. Die Gereformeerde Gemeente, Wapadrand was gretig om Tim as sendeling aan te neem en daar is besluit dat dit terselfdertyd die weg baan vir goeie interkerklike samewerking. Tim is saam met 'n afvaardiging van Miederpark daarheen en die vennote het ooreengekom om saam te werk met Wapadrand as sturende gemeente, terwyl die ander gemeentes ondersteunend sal optree. Hierna het Miederpark een van hul kundige sendelinge, ds. Dawie de Wet, wat ook Franssprekend is, gestuur om vir Tim en Jeanette te begelei op 'n besoek aan Burundi. Heelwat kerkleiers is in Burundi ontmoet, behoeftes is voorlopig bepaal, en Tim en Jeanette kon terugkeer om voor te berei vir die beplande uitstuur wat DV ses maande later sou plaasvind. Tim sal die kerkleiers in Burundi, wat nie die voorreg gehad het om teologiese opleiding te ondergaan nie, verder vir hul werk gaan toerus en bemagtig. Die mense van Burundi het deur die oorloë intense geestelike en emosionele skade opgedoen. Hierdie letsels dra hulle vandag nog. Daar is 166 denominasies van Protestantse Kerke, versprei oor die hele land. (3 471 uit 5 542 kerke is Protestants). Na raming sal daar teen 2010 ongeveer 11 574 kerke bestaan. Die groot probleem is egter die kwaliteit van die opleiding van kerkleiers. Baie pastore is in diens geneem terwyl hulle geen opleiding gehad het nie en nie weet hoe om die Skrif te bestudeer nie. Hierdie leiers het dringend hulp nodig. In Suid-Afrika moes Tim en Jeanette intussen harde werk doen. Hulle het verskillende kursusmateriaal oorweeg, en uiteindelik besluit om die Veritas Bybelkollege se materiaal as basis vir opleiding in Burundi te gebruik en dit te kombineer met ander materiaal. Hulle moes die Kursus self ook deurloop. Hierdie verhaal word vertel om te sê ons het 'n groot God wat altyd in alles voorsien. Bid vir hierdie egpaar! Onthou ook, God wat u roep, is getrou om te voorsien! Moenie moedeloos word nie! |