GETUIE SONDER TONG
  ’n Suid-Koreaanse Christen het aan die ergste graad van melaatsheid gely. Dit was in oorlogstyd en hy is in ’n Amerikaanse sendinghospitaal opgeneem. Die man was verskriklik geskend deur sy siekte. Sy voete was so misvorm dat hy nie kon loop nie. Hy het geen vingers aan sy hande oorgehad nie. Die siekte het sy oë, sy tong en tande, selfs sy lippe verwoes. Só het hy in sy hospitaalbed gelê: verlam, doof, stom, blind.
Maar drie dinge kon hy nog doen: Hy kon aanvoel wanneer iemand in sy kamer kom as gevolg van die vibrasie van die voetstappe op die vloer. Hy kon sy vingerlose hand so effens oplig. En hy kon nog onverstaanbare geluide maak. Dit was vir hom genoeg om teenoor die mediese personeel van sy Here te getuig. In die dodekamer het die volgende toneel dikwels afgespeel: Wanneer iemand daar ingekom het, het die melaatse dit aangevoel en sy vingerlose hand opgelig om te wys na die houtkruis wat hy geweet het bokant sy bed hang. Só het hy weggewys van sy eie pyn… na sy Verlosser, Christus die Here. Dan het die blinde, sterwende man liploos geglimlag en opgewonde hyggeluide gemaak. Niemand wat hom gesien het, kon twyfel aan wat hy wou sê en aan die krag van sy getuienis nie.

“Christene is op pad deur die nag in die rigting van die dagbreek. Al wat ons hoef te doen, is om vir die ander reisigers deur die nag in die rigting van die Lig te wys. Hulle sal verstaan dat ons daarmee sê: ‘Kyk, daar kom die Son op!’” (Daniel Fackre).

[Uit: Stories vir die lewe Omnibus, ’n Boek oor lewenswaardes, Piet Naudé, Lux Verbi.BM, 2002].

Indeks     Index