UIT DIE KAKE VAN DIE DOOD... | ||
  |
![]() Op Sondagaand (22 Maart) is die Passiespele in ons kerk in Johannesburg aangebied. Ek wou dit baie graag bywoon en het toe spesiaal huis toe gekom om my pa te ondersteun wat die rol van Jesus vertolk het. Daardie aand was aangrypend-pragtig. Nooit het ek kon dink dat die woorde van Jesus by die klip: “Laat hierdie lydensbeker by My verbygaan”, ook die volgende oggend in ’n sekere sin op my pa en ons gesin van toepassing sou wees nie. Die dag van die tragiese ongeluk (23 Maart), was ook die dag van my Ma (Annamarie), se begrafnis in 2000. Die Sondagnag kon ek nie goed slaap nie. Ek het lank gelê en wonder hoe die Maandag gaan verloop omdat daar soveel dinge was wat ek daardie dag moes doen. Terwyl ek aan al hierdie dinge dink, kom die gedagte by my op, “Wat as ek sou sterf?” Dadelik het ek opgestaan en vir myself gesê: “Ek sal nie sterf nie, want ek eer my pa en ma!” Dit was vir my op daardie oomblik vreemd - min wetende dat dit ’n invloed sou hê op die ongeluk. Vandag besef ek dat woorde baie kragtig is - veral God se Woord! Ons moet daagliks die Woord as swaard optel en daarmee veg! Die volgende oggend baie vroeg het my broer, Herman, my gaan aflaai vir my saamry-geleentheid na Potchefstroom toe saam met Rika en haar 3-jarige dogterjie, Abi. (Rika Thomson het by die Noordwes-Universiteit gewerk en ek, ’n student daar, het haar daardie oggend vir die eerste keer ontmoet). Ek en Rika het die hele pad so lekker gesels oor verskeie dinge, onder andere ook oor haar toekoms. Maar die tragiese ongeluk wat haar en haar kind se lewe geneem het, het slegs 30 minute later gebeur, ongeveer 20 km vanaf Potchefstroom... Die ongeluk was ’n skrikwekkende gebeurtenis, maar dit was asof Jesus my vasgehou het tydens die botsing met die groot vragmotor, sodat ek niks kon sien, hoor of voel nie. Ek was tydens daardie oomblikke van niks bewus nie. Toe ek bewus word dat iets gebeur het, was ek reeds besig om my sitplekgordel los te maak, want die motor het begin brand. Daar was genadiglik dadelik twee mans op die ongelukstoneel wat my na die veiligheid van ’n bakkie gehelp het. Dáár het ek eers besef dat ons in 'n ongeluk betrokke was toe ek bloed uithoes en my seer hande voel. Ek het dadelik begin bid en gevra dat as daar iets binne-in my fout was, die Here my net sal heelmaak. Ek het in die ambulans vir die derde keer gevra: “Is Rika en Abi OK?” Hulle het egter al die eerste keer, toe ek gevra het, vir my “nee” gesê. Toe ek besef dat hulle dood is, het ek verskriklik begin huil. Maar wat my getroos het, was toe die nooddiens-vrou gesê het: “Nee, nee, nee, jy gaan nie nou huil nie. Elke mens het sy bepaalde tyd op aarde, en as die Here jou naam roep, kom haal Hy jou, maak nie saak waar jy is nie. Hy het hulle name geroep, want dit was hulle tyd, maar Hy het nie jou naam geroep nie, want jy het nog werk om op die aarde vir Hom te doen!” Dit het my geweldig getref en baie rustig laat voel. Terwyl hulle in die hospitaal X-straalfoto’s neem, het die dokter die hele tyd vir my gesê: “Daar is niks gebreek nie skat, jy is só gelukkig!” Toe besef ek net: “God... You are my Healer!” Al beserings wat ek opgedoen het, was ’n sny teen my kop en sagteweefsel-beserings aan my regterhand en -voet. Dit was slegs genade en ’n GROOT wonderwerk as ’n mens na die voertuigwrakke kyk! Nog ’n wonder van die ongeluk is dat behalwe dat ek betyds uitgekom het, die rugsak waarin my Bybel was, ook heel uitgekom het. Ek weet nie waar die rugsak in die motor gepak was nie en ook nie hoe dit uit die motor gekom het nie, maar die volgende woorde het later by my opgekom: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar My woorde sal nooit verbygaan nie!” (Matt. 24:35). Ek wil net elke persoon wat hierdie getuienis lees, aanmoedig en sê: “God LEEF!!! Gehoorsaam Sy Woord, getuig van Hom, en verkondig SY Liefde... Straal dit uit! LEEF Sy Woord en dit sal goed gaan met jou! Lees Psalm 119. Die lewe is kort!” Ek wil ook net sê dat ek in twee geskeur is deur die verskriklike hartseer in my oor die afsterwe van Rika en Abi, en my dankbaarheid dat ék leef. God is egter in beheer en Hy weet beter. Ek bring hulde aan Rika en Abi, en vra dat julle asb. vir haar man, ma en sussies sal bid! |