WANT 'N KIND IS VIR ONS GEBORE | ||
  |
Sy het die mooiste, fynste vingertjies gehad. Haar ma se hande, het ek etlike minute na haar geboorte al gesê, terwyl ek nog na asem gesnak het oor die wonder van haar daar-wees. Haar ma se hande. Ek kon my verkyk! Vyf volmaakte vinger-tjies aan elke handjie. Die naeltjies so perfek gevorm, so piep, piep klein. Die vuisie wat knie en knie terwyl sy drink, die vingertjies wat sag om my groot vinger vou en verbasend sterk vasvat en hóú. Die oop handjie, pienk palmpie boontoe, so weerloos wanneer sy slaap. So het ek haar gekry, vroeg die oggend. Ek kon maar net nie gewoond raak aan die wonder van haar nie - was smôrens heelwat vroeër as gewoonlik wakker, ten spyte van die onderbroke nagte. Dan het ek so sag as moontlik opgestaan om nie die nuwe moeder te steur nie, wiegie toe gesluip en net daar gaan staan. O, om net na haar te kyk en te kyk terwyl ’n nuwe dag breek! As ek ooit so gek sal wees om in ’n God te glo, sal dit wees oor die wonder van ’n nuwe mensie en oor niks anders nie, het ek dikwels gedink. En dan vir myself gelag - geswore ateïs, jou kind maak jou kop vol watte! Die deining van die borsie soos sy asemhaal, die roering van die wimpertjies, die skaars waar-neembare asempie deur die half-oop mondjie… Maar dié oggend was daar niks. Sý was nie daar nie. Net die leë lyfie. Die bleekblou skynsel om haar mond. Die weerlose, oop handjie, palmpie weggedraai, ondertoe. Doodstil. Doodstil. Vir sekondes, minute, ure…! God, vir hoe lank het ek net daar gestáán…? Doodstil, en toe, ek onthou vaagweg, die kreet uit my bors wat skeur soos lap, my vrou se skrik, die dokter se magtelose meelewing… En die sneeu wat kraak onder my voete soos ek loop en loop en loop. Veld in. Loop net. Loop! Weg. Weg van die weerlose, willose handjies en die weergalmende pyn! Weg! Weg van die woede. Weg van die woede. Weg van die wóéde… Maar ek kry dit nie reg nie. Die woede jaag my, hap honger aan my hakke, brul binne-in my soos ’n gevange dier. Tot dit onkeer-baar by my mond uitbars: “Ek haat jou, ek haat jou, ek háát jou! Jy wat kastig as God, die Vader, bekend wil wees. Hoe durf jy jouself ’n Vader noem as jy so iets toelaat? Ek haat jou! Hoor jy my? EK HAAT JOU!!!!!”, skree ek op iemand wat ek nog altyd geglo het nie bestaan nie. Die stilte na my uitbarsting was skoon, soos die nuwe sneeu. Behalwe vir my eie snikke was daar niks te hoor nie. Net, op die wind, so sag dat niemand behalwe ek dit sou kon hoor nie, ’n Pa-stem wat troos: “Ek verstaan, Seun. Ek huil saam met jou. Ek weet hoe lief jy vir haar was. Ek het jou nog oneindig liewer…” En later, toe ek bedaar het: “Ek het haar vir julle gestuur. Met ’n opdrag, ’n taak: Sy moes julle harte na My toe draai… Ek het haar weer kom haal. Sy is nou by My. Ek wil só graag vir jou ook ’n Pa wees…” Ek het al op die paadjie van my eie, woedende spore teruggestap huis toe. Vroeër het ek die toegesneeude veld ingestorm, ’n verontregte ateïs. Nou het ek daaruit gestap, ’n vergeefde seun. Pasgebore, leeggehuil, stilgetroos. Eerste treë, huis toe. Want vir ons is ’n Kind gebore… [Uit: Dis weer Daai Kat!, Annalise Wiid, Annie’s Song, 2003]. |