DIE GEMEENTE AS GESTUURDE... WORD DEEL VAN 'N NUWE SENDINGPASSIE!
  Vanaf 18-19 September 2009 word 'n groot Sendingkonferensie met die tema: “Die Gemeente as Gestuur-de” in Potchefstroom aangebied. Die Konferensie word vanjaar vir die vierde agtereenvolgende jaar in Potchefstroom gehuisves en staan onder leiding van MMM (Missionêre Mobiliserings-momentum), 'n interkerklike Beweging. Die Beweging sluit verteenwoordigers van al die hoofstroomkerke in, sowel as verskeie ander kleiner kerkverbande. Die “venue” van hierdie Konferensie roteer elke jaar. Vanjaar sal die Konferensie by die fasiliteite van die NG Gemeente, Potchefstroom-Noord, Dwarsstraat 21, aangebied word.
Kom beleef die Sendingpassie van die Kerk saam met bekende sprekers van regoor die land. Peter Tarantal (Voor-malige leier van Operasie Mobilisasie en tans leier van die Wêreld Evangelisasie Netwerk van Suid-Afrika), sal praat oor die tema: “Onderskei tussen verskillende sendingmodelle”.
Hoewel die Sendingopdrag van Jesus nog steeds onveranderd die opdrag van die Kerk is, het die Sendingmetodes oor die jare aangepas en ontwikkel. Dit is strategies belangrik om die beste Sendingmetodiek vir die bevolkings-groep waar u werksaam is, te kies. In Lagos, Nigerië is ’n gemeente wat 838 sendelinge na 10 lande uitgestuur het. Dink net hoe belangrik is dit dat daardie sendelinge effektief gebruik word. In Seoel bv., het Yonggi Cho 780 000 en Chung-Suk Kim 85 000 lidmate in hul gemeentes. Gemeentes kan vandag net nie meer bekostig om vas te val in metodes wat oneffektief geraak het vir die tyd waarin ons leef nie. Ons wil elke gemeente van elke kerkverband dringend uitnooi om vanjaar spesiale moeite te doen om verteenwoordigers van u gemeente by hierdie Konferensie te registreer. Verlede jaar se MMM Konferensie het tot gevolg gehad dat verskeie gemeentes in die streek vir die eerste keer aktief begin deelneem het in die uitstuur van sendelinge! Daarmee saam het dit gelei tot 'n golf van Sendingmobilisering. Vyf soortgelyke Konferensies word vanjaar regoor Suid-Afrika aangebied.
Richard Verreyne, (Leier van World Thrust), is 'n bekende Sending-mobiliseerder. Hy hanteer vanjaar praktiese onderwerpe wat 'n groot impak in elke gemeente teweeg kan bring. Hy sal ook gemeentes wat sukkel om aan die gang te kom met Sendingwerk, van kosbare raad voorsien. Een van sy temas is: “Vestig ? missionele visie in die gemeente”. Hy moedig predikante en pastore aan met die tema: “Bemagtig jou leiers in die plaaslike gemeente!” Johan Carstens (Market Place Ministries), praat oor die sleutelbeginsel wat elke gemeente moet snap, “Elke gelowige is ? sendeling!” Hy deel ook sy kundigheid rondom 'n effektiewe Sendingbenadering wat bekend staan as “Die markplein-strategie.”
Die Konferensie sal verskeie praktiese sessies aanbied waar toerusting-materiaal bekendgestel sal word. Daar sal ook vanjaar verskillende gemeentes wees wat hul getuienisse kom deel rondom die waagmoed om met Sendingwerk te begin, en die seëninge wat daaruit voortgevloei het vir die gemeente en Sendingakker.
Ds. Willem Louw, hoof-organiseerder van die Konferensie sê: “Daar is in hierdie dae 'n honger en dors by duisende gelowiges om weer 'n kragtige verskil vir God te maak. Duisende mans het vanjaar na Angus Buchan opgetrek en hul opnuut aan God verbind. Sedertdien is daar daagliks manne en vroue wat ontdek dat hulle met die gawes wat God reeds vir hulle gegee het, 'n reuse verskil kan maak. Daarom is dit nie vreemd dat die Kerk kragtig groei daar waar Christene opnuut hulself aan God se Sendingopdrag verbind nie!”
In Indië is daar byvoorbeeld 3 000 bekeerlinge per dag uit Hindoeïsme. In Bihar in die noorde van Indië is daar reeds 50 000 Christene wat by ’n gemeente met 5 000 huiskerke inskakel.
In Suid-Amerika, Afrika, Indië en Suid-Korea is die Christendom besig om kragtig te groei en gereed te maak vir die uitstuur van ’n nuwe golf sendelinge.
Hierdie komende Konferensie is ’n dringende oproep om weer God se groot Sendingopdrag ernstig op te neem. Ons pleit by elkeen wat hierdie artikel lees om hierdie Konferensiedatum aan te teken en ernstig te bid vir ongekende seën op elkeen wat hierdie Konferensie bywoon.
Die Konferensie sal op gepaste wyse afsluit wanneer Richard Verreyne alle Konferensiegangers uitstuur met die tema: “Gaan maak 'n verskil (Missio Dei)!”
Ons wil u aanmoedig om vroegtydig u plek te bespreek: As u gemeente nie iemand stuur nie, kom dan self en bring nog iemand met dieselfde passie saam. U is ook welkom om iemand te borg deur 'n donasie aan ons te stuur.

U het 'n keuse van drie pakkette:
Pakket A: Akkommodasie, etes, verversings en lesings ingesluit: R200 p.p.
Pakket B: Lesings, etes en verversings ingesluit vir die hele Konferensie: R150 p.p.
Pakket C: Lesings en verversings vir die naweek: R50 p.p.
Besprekings kan gedoen word by MMM Kantoor: Tel.: 018 294 6900 (vm.) Faks: 018 294 3900 of E-pos: mmm@ngkmiederpark.co.za
Stuur 'n e-pos na MMM en vra 'n inskrywingsvorm. U sal die nodige vorms ontvang. Voltooi dit en stuur weer terug. Die volledige program en inskrywingsvorm is ook op die web beskikbaar by www.ngk.miederpark.co.za

Indeks     Index