MOENIE SĘ: “GEBED WERK NIE!”
  My eie verhaal gaan terug na baie jare gelede. Ek het by twee geleenthede ernstige maagsere gehad. Die laaste keer was gedurende 1977. Dit was 'n baie ernstige, bloeiende maagseer. By 'n gewone biduur van die gemeente, waar net 'n handjievol mense was, het hulle vir my gebid, en onmiddellik het God my gesond gemaak. Ek is die volgende dag na die dokter toe, wat my weer gestuur het vir X-straalplate, en die uitslag was dat daar tekens van 'n maagseer was, maar dat dit nou gesond is. Hierdie X-straalplate is nog in my besit, met die verslag daarby. Dit was 'n onmiddellike, totale genesing, en nooit weer het ek aan 'n maagseer gely nie. Dit is nou 34 jaar gelede.
Maar ek wil ook stilstaan by die eerste maagseer. Dit was nie só ernstig nie, omdat dit nie 'n bloeiende maagseer was nie. Dit was gedurende 1970. Hier is ook vir my gebid, maar die genesing was nie onmiddellik nie. Ek moes gedurig na God gaan en Hom daaraan herinner dat Hy tog die gebede verhoor het toe daar vir my gebid is. Elke dag as die pyne kom, het ek tot God geroep en op Sy Woord gestaan vir algehele genesing. Geleidelik het dit beter en beter gegaan. Die pyne het minder geword en naderhand slegs sporadies voorgekom totdat ek na 'n jaar volkome herstel het. Miskien het hierdie “vashou” my geloof sodanig versterk dat ek, toe dit sewe jaar later weer gebeur (soos hierbo beskryf), met hernude geloof na God toe kon gaan. Tog het ons niks om in te roem nie, want selfs die geloof wat ons het, is 'n gawe van God (Ef. 2:8). Die feit is, ek moes gedurig na God toe gaan met geloof en verwagting, sonder om moedeloos te word en te sê: “Gebed werk tog nie!” Dit sou ongeloof gewees het. Die Woord verklaar immers: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n Beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6). Het ek gedurende hierdie tyd in die versoeking gekom om te twyfel? Ja! Baie! Wat het ek dan gedoen? In Mark. 9:14-29 vind ons die verhaal van die vader met die maansiek kind wat na Jesus toe kom vir hulp. Dan sê die vader van die kind: “Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” En Jesus antwoord: “Wat dit betref - as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Dan vervolg die Woord: “En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (Mark. 9:22-24). Hoe dikwels het ek gebid: “Kom my ongeloof te hulp!” En: “Kom my swakheid van geloof te hulp!” Die Here sê immers vir Paulus toe hy in 'n groot krisis was: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring” (2 Kor. 12:9). Hierdie ‘met geloof na God toe gaan’ en ‘gedurig bid en nie moedeloos word nie’ geld nie net vir siekte nie, maar vir enige lewenskrisis. Jesus nooi ons uit: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28).
In Luk. 18:1-8 vind ons 'n kort gelykenis wat die Here Jesus vertel m.b.t. gebed. Dit handel oor 'n weduwee wat gedurig na die onregverdige regter gegaan het en gesê het dat hy aan haar moet reg laat geskied teenoor haar teëparty. Sy het aanhoudend na hom toe gekom en hom eintlik verpes. Sy het nooit moed opgegee nie. Vir 'n lang tyd het hy haar geïgnoreer, en niks aan die saak gedoen nie. Maar sy het aangehou om hom te vra. Op 'n dag het hy toegegee en gesê dat hy aan haar reg sal laat geskied, al vrees hy God nie. Sy gee hom dan soveel moeite! Dan sê Jesus: “Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:6-8).
Hierdie verhaal is vertel met die oog op volhardende gebed. As 'n gewone burger van die land aanhoudend na 'n onregverdige regter kan gaan wat God nie eers vrees nie, en geholpe raak, hoeveel te meer die gelowiges wat na God toe gaan in gebed! Die Ou Vertaling sê: “...al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?” Die Nuwe Vertaling lui: “Sal Hy hulle lank laat wag?” Jesus sê: “Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” Die verhaal is tog, soos ons in die begin kan opmerk, vertel “met die oog daarop dat 'n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie.”
Sodanige gebede sal God ant-woord, want dit is die soort gebed wat gepaard gaan met geloof. Jesus sê aan die einde van die vertelling: “...maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”
Indien die weduwee getwyfel het of die regter haar gaan help, sou sy nie geholpe geraak het nie. Die teendeel is dat sy voortdurend met verwagting na die regter gegaan het. So moet ons ook volhardend met verwagting en geloof na God toe gaan.
Ja, gebed werk, want Jesus Self het ons geleer om te bid, en ook aan ons die voorbeeld gestel om te bid, maar ons moet met geloof na God gaan. Laat ons aanhou bid sonder om moedeloos te word!
Dr. JJ Venter, 084 245 2338.

Indeks     Index