LIEFDE, HOOP, GELOOF... | |
  |
Een van ons lesers vertel my vroeër die week van 'n kerkie in 'n plattelandse dorpie in Duitsland met die mooiste gekleurde glasvensters. As 'n mens binne-in die kerk sit en na die vensters kyk, is die volgorde van die woorde op die venster: “Geloof, Hoop, Liefde”. As 'n mens egter buite die kerk staan en na die vensters kyk, lees dit: “Liefde, Hoop, Geloof”. Volgens die leser is die verklaring dat ons gelowiges wat “binne-in die kerk sit”, deur ons geloof in God, hoop verkry vir 'n ewige lewe saam met ons Skepper. Hierdie hoop stel ons in staat om in liefde na ons naaste uit te reik. Wanneer ons as gelowiges egter na die mense “buite die kerk” uitreik, moet die volgorde anders-om wees. Wanneer ons in liefde na 'n ongelowige persoon uitreik, stel ons hulle in staat om te begin hoop vir 'n beter toekoms. Uit hierdie hoop kan geloof in Jesus Christus gestalte vind. Kyk na hierdie drie teksverse: GELOOF: “Jesus sê toe vir hulle: ‘Julle moet geloof in God hê!’” (Markus 11:22). HOOP: “Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding” (Romeine 8:24). LIEFDE: “Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Johannes 13:34). Mag jy van vandag af begin om in LIEFDE teenoor jou naaste te leef. Mag jou voorbeeld en verhouding met Jesus Christus HOOP aan diegene bied wat deur 'n moeilike tyd gaan. En mag die Heilige Gees jou lei sodat jy deur jou liefde vir Jesus Christus ander tot GELOOF in Hom kan lei. Dit was immers Jesus se laaste opdrag aan ons! GEBED: Vader God, baie dankie vir U onvoorwaardelike liefde wat my vrymaak. Lei my asseblief deur U Heilige Gees om van vandag af met liefde teenoor my naaste op te tree sodat my lewe aan ander hoop kan bied wat sal lei tot geloof in U. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. - Benescke Janse van Rensburg - vers@versndag.co.za 25 Februarie 2011. |