JOU LEWE PRAAT!
 
1 Tessalonisense 1:2-3:
Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.
Baie keer sê ons mooi goed van mekaar wanneer dit te láát is, soos in huldeblyke by begrafnisse. En eintlik is dit dinge wat ons vir mekaar moet sê, terwyl ons nog skouers skuur.
Positiewe en opbouende woorde help bou aan mekaar se selfvertroue, terwyl ondeurdagte kritiek mense fisies en emosioneel kan knou.
Ook in ons geestelike lewe het ons baie aanmoediging nodig. Daar is soveel dinge wat die wind uit ons seile kan haal. Dis goed om te hoor dat ons op die regte pad is.
In bogenoemde Skrifgedeelte word gelowiges deur Paulus gekomplimenteer. Sekere aspekte van hulle lewens staan uit vir enigiemand om van kennis te neem:
Die werk van julle geloof: Hulle leef in 'n verhouding met die Here. Hulle bely sekere dinge openlik en sonder skroom. Maar dit bly nie net by praatjies nie - dit loop oor in dade. Hulle geloof werk! Dit maak 'n verskil.
Die inspanning van julle liefde: Dit wat hulle doen, word gedryf deur liefde vir die Here wat hulle eerste liefgehad het, en ook 'n liefde vir ander mense. Liefde is nie net 'n opwelling van emosies nie. Dit behels keuses en opofferings. Daarom verg dit inspanning.
Die volharding van julle hoop: Hulle leef nie net vir die hier en nou nie. Hulle het 'n toekomsdroom en toekomsvisie dat die Koninkryk van God volledig sal deurbreek. En hulle byt vas deur dik en dun om hierdie hoop aan die brand te hou.
Let op: elkeen van die drie woorde vra iets. Niks val net in jou skoot nie. Maar deur dit te troetel en voed, sal almal om jou van jou groei kan praat terwyl jy nog lewe!

Gebed:
Here, help my asseblief om vandag so te lewe dat my geloof, hoop en liefde sigbaar sal wees in alles wat ek doen. Dirk Taljaard
vers@versndag.co.za 2 Mei 2011.

Indeks     Index