VERLOS UIT DOOD SE KLOUE | |
  |
![]() Agtergrond: Dr. Chris Russouw, afgetrede veearts en tandarts is lidmaat van die NG-gemeente, George, in die Suid-Kaap. Gedurende Oktober verlede jaar, was hy betrokke in 'n motorfiets-ongeluk. Hy is in die Intensiewe Hoësorgeenheid opgeneem met 7 rib-frakture en kleinbrein-bloeding en het geweldig pyn ervaar. Hier volg sy getuienis oor hierdie traumatiese gebeure: Ek is na 3 weke in die hospitaal huis toe, maar was skaars tuis, of ek is weer opgeneem in die hospitaal en het in 'n koma verval. Familie, vriende en verskeie kerke se gebede het my gedurende hierdie moeilike tyd deurgedra. Die geneesheer was bekommerd aangesien my toestand net bly vererger het. My seun Hannes, 'n student in Kaapstad, is ook laat kom omdat die geneeshere die ergste verwag het. Ekself was in 'n koma en vrees niks nie - God is my Vriend en ek is Syne. (Ek het vroeër reeds versoek dat ek aan geen lewensverlengingsmasjiene gekoppel moet word nie en my prokureur was bewus van die betrokke versoek). Daar in die Hoësorgeenheid het ek gelê met longontsteking, orgaanversaking en baie lae bloeddruk. Verder was my koors baie hoog en daar was feitlik geen urine-uitskeiding; slegs 10 ml per dag. Ek is aan 'n ventilator en dialise-masjien gekoppel en nierversaking en bakteriële septisemie volg. Die geneeshere het geen hoop nie, maar tog... waar daar lewe is, is daar hoop! Die geneeshere dra die slegte nuus aan my familie oor dat hulle niks verder vir my kan doen nie en daar word besluit om die masjiene af te skakel. Ek word na 'n privaatkamer oor-geplaas en die familie verwag die ergste. Ek was onbewus van enige pyn en intussen het ontbinding by my ingetree, veral by die spiere op my blaaie en boude. En ek word breindood verklaar... 'n Jong dame, 36 jaar oud, wat saam met haar kinders, 3 en 11 jaar oud, in 'n motorongeluk was, was saam met my in die Hoësorg-eenheid en die masjiene waaraan sy gekoppel was, is dieselfde nag as myne afgeskakel. My eggenote en die dame se lewensmaat het saam gebid dat haar lewe gespaar moet word, maar die mens wik, en God beskik. Gedurende hierdie tyd het God my na die hemel geneem. In die hemel was die pragtigste groen gras, en bome met die mooiste bas en dik stamme. Alles het geskitter en geblink soos kristal. Vier engele het aan my verskyn... Hulle het só geskitter dat ek slegs hulle profiele kon uitmaak. Die vrede daar was onbeskryflik en ek wou nie terugkeer aarde toe nie. Die volgende oomblik het ek gehoor hoe deure oopgestamp word en trolliewiele rammel. Ek het spontaan wakker geword - dit was omstreeks 00:30 die nag van 14 Desember 2010. Ek was bewus daarvan dat iemand gesterf het. God het die jong dame kom haal en my teruggebring aarde toe sodat ek aan die mense op aarde kan vertel dat God 'n werklikheid is en dat Sy genade veel groter is as wat ons kan besef. Nadat ek die nagsuster ontbied het deur my klokkie te lui, het ek haar versoek om my te help sodat ek in 'n stoel kon sit. Ek het ontsettende pyn verduur. Toe die geneesheer en my eggenote my die oggend daar aantref, het dr. Retief net gesê: “Dit is nie ongelooflik nie, maar gelooflik; dit is nie 'n mediese wonder nie, maar 'n Goddelike wonderwerk!” 'n Lang pad van herstel het vir my voorgelê, maar ek is vandag baie dankbaar om te kan getuig dat ek volkome herstel het na 3 maande se verblyf in die hospitaal. Daar is later vasgestel dat 'n gram negatiewe Basil, te wete Citrobacter freundii, by my gediagnoseer is en dit het die septisemie veroorsaak. Die dame wat gesterf het se lewensmaat het homself volkome tot die Here Jesus bekeer na die ondervinding wat hy in die hospitaal met ons Russouw-familie ervaar het. Ek dank die Here vir Sy groot genade - Hy wat aan die kruis vir ons gesterf het. Die Skrifgedeelte in Hebreërs 10:35-36 het my in daardie moeilike dae aangegryp en ek dra dit steeds diep in my hart: “Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.” Indien u dr. Chris Russouw wil kontak, kan u hom gerus skakel by 082 574 2300 of 044 879 0907 of per e-pos by gleniqua@telkomsa.net |