BID SONDER OPHOU
  Ons lewe in ernstige tye. As daar ooit 'n tyd was dat die gelowige sy godsdiens met erns moet bejeën, dan is dit nou. Die Woord van God verklaar: “Koop die tyd uit omdat die dae boos is.” (Efésiërs 5:16 OV).

Ons moet die tyd uitkoop om te bid. Moeite doen. Opofferings maak. 'n Prys betaal om tyd te maak vir gemeenskap met ons Vader.

Ons moet wys wees “…soos 'n man wat 'n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was” (Lukas 6:48 OV).

Laat ons diep grawe met volhardende gebed totdat ons die Rots bereik. Laat ons géén moeite ontsien nie, want ons leef in gevaarlike en onstuimige dae.

Ons moet spesiale en dringende voorbidding vir ons land en al sy volksgoepe doen. Daar moet ook volhardend teen misdaad, korrupsie en wanpraktyke gebid word. En natuurlik moet ons ook intree vir die behoeftes van noodlydendes.

Saam met die Psalmdigter behoort ons te kan sê:“In die aand, in die môre en in die middag, heeldag kla en sug ek, en Hy hoor my roep” (Ps. 55:18 NV). Daniël is ook vir ons 'n sprekende voorbeeld van volhardende gebed:“…hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op 'n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitge-spreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.” (Daniël 6:11 OV).

Grawe diep. Bid voortdurend. Bou op die Rots en nie op die sand nie! “Bid sonder ophou” (1 Thess. 5:17 OV). Die Amplified Bible stel dit so:“Be unceasing in prayer [praying perseveringly]…”

Die KOMS van JESUS is VOOR DIE DEUR! Laat ons sonder ophou bid en gereed maak sodat ons ons BRUIDEGOM met vreugde en afwagting tegemoet kan gaan!
© Dr. J J Venter

Indeks     Index