BLOM IN DIE HERE... | |
  |
Die man se gebed het my aangegryp. Kinderlik opreg en eenvoudig het hy gebid vir talle mense.
Heel laaste het sy kinders aan die beurt gekom: “Here, my God, U het aan my kinders gegee.” So het hy begin, en toe vervolg: “Ek weet dat ek nie naastenby alles gedoen het wat ek met betrekking tot hul geestelike toerusting aan hulle verskuldig is nie. Maar nou vra ek nederig dat U, ondanks my tekortkominge, hulle nogtans sal laat blom.” Hy het 'n oomblik gehuiwer, so asof daar nog iets kortkom, en toe voortgegaan: “Ek bedoel, dat hulle moet blom in die Here.” Ek het lank daarna nog aan die kinderlike gebed gedink, en veral aan die betekenisvolle woorde: “Ek bedoel dat hulle moet blom in die Here.” Dit het duidelik tot my deurgedring dat daar nogal 'n groot verskil tussen gewoonweg blom en blom in die Here is. 'n Mens wat gewoonweg blom, deel normaalweg in die materiële voorspoed wat aan hom gegee word. Hy het aan niks gebrek nie, sy gesond-heid is goed en kwellinge is daar nie. Die vraag sou dan gevra kon word of 'n mens hoegenaamd meer as dit nodig het? Dis duidelik dat die man wat vir sy kinders gebid het, inderdaad so gedink het. Die drie woordjies “in die Here” maak 'n groot verskil. Wie in die Here blom, ontvang 'n diepe vrede en geluk wat alle verstand te bowe gaan. Dit styg ver bokant materiële welvaart of gesondheid uit en bly staan, selfs al sou dit uiterlik lyk of dit nie goed gaan nie. Die profeet Habakuk moes hierdie boodskap, nl. dat 'n kind van God moet blom in die Here, selfs ondanks teëspoed, aan die mense tuisbring. En hoe aangrypend het hy dit nie gedoen nie! Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder (Hab. 3:17-18). Hier lê dan die groot verskil tussen gewoonweg blom en blom in die Here. Dis 'n goeie gebed om vir jou kinders te bid: Here, laat my kinders blom - blom in die Here! - Oorgeneem |