DOEN DIT ASOF VIR DIE HERE
  Eric Liddell was 'n Skotse student wat hom in Edinburgh vir 'n sending-loopbaan bekwaam het. Op die ouderdom van twee-en-twintig was hy reeds 'n internasionale rugbyspeler en Groot Brittanje se kampioennaelloper.

By die Olimpiese Spele in 1924 in Parys, was Eric die gunsteling om die 100 meter-wedloop te wen. Toe hy egter verneem dat hy sy uitdun op 'n Sondag sou moes hardloop, het hy geweier om die dag van die Here op hierdie wyse te onteer. Hy het hom onttrek van daardie item.

Die daaropvolgende week het hy aan die 400 meterwedloop deelgeneem, hoewel sy wenkanse maar skraal was. Toe hy afsak om weg te spring, het hy teruggedink aan die papiertjie wat iemand by die hotel in sy hand gedruk het. Daarop het gestaan: “Them that honour Me, I will honour” (1 Samuel 2:30).

Eric het doelgerig gehardloop en oor die wenstreep geskiet met 'n Olimpiese en wêreldrekordtyd van 47,6 sekondes! Fotograwe en koerantmanne het op hom toegesak en wou weet hoe hy dit reggekry het.
Sy antwood was: “I ran for Christ!”

Wat gaan jy voortaan só doen asof dit vir Christus is? Hy sal jóú ook bystaan as jy maar net vir Hom besiel is.

[Uit: 52 Waarhede, Japie Coetzee, Lux Verbi].

Indeks     Index