ONTVANG VANUIT 'N GEOPENDE HEMEL...
  Voor die begin van hierdie eeu moes skepe, voordat hulle die hawe van New York binnevaar, deur ‘n kanaal vaar waarvan die naam Hell Gate was.
Hierdie kanaal, geleë tussen die Bronx en Long Island, was verskriklik gevaarlik as gevolg van bedrieglike dwarsstrome en rotse (Flood Rock) wat in die middel van die kanaal was.
Hoewel inkomende skeepskapteins Hell Gate baie versigtig binnegeseil het, is honderde skepe vernietig en was daar geweldig baie lewensverlies oor die jare heen.
Daar word vertel dat die kanaal Hell Gate genoem is omdat die matrose gesê het dat “baie goddelose mense die hel deur daardie verskriklike hek binne-gegaan het.”
Radelose stadsvaders het ingenieurs se hulp ingeroep om hierdie kwessie te kom bestu-deer en te kyk of hulle nie iets aan die saak kon doen nie. In 1885 het hulle plofstowwe rondom Flood Rock geplaas om die obstruksie uit die kanaal te verwyder.
Hulle het die ploftoestel se bedrading herlei tot binne-in die burgemeester se kantoor in die stadsaal en dit aan ‘n skakelaar gekoppel. Hierdie moeite is gedoen omdat daar groot openbare belangstelling geheers het.
Daar was ook joernaliste uit baie ander lande in Amerika. Op 10 Oktober het die burgemeester en sy klein dogtertjie, vergesel van twee getuies en ‘n groep verslaggewers en fotograwe na sy kantoor gegaan.
Nadat hy aangekondig het dat die skakelaar in sy kantoor die plofstowwe sou laat ontplof en van Hell Gate ‘n wyer kanaal maak, het hy vir sy dogtertjie gesê: “Wil jy die knoppie druk en die plofstowwe laat ontplof?”
Die dogtertjie was baie opgewonde om saam met haar pappie te wees, maar sy het niks van skepe en dwarsstrome geweet nie. Sy was heeltemal onkundig aangaande al die tegniese en tegnologiese terme en het eintlik ook nie geweet waarom daar so ‘n groot bohaai gemaak word oor die hele affêre nie.
Maar toe haar vader sê: “Druk die knoppie”, het sy gehoorsaam en die skakelaar gedruk terwyl die verslaggewers toegekyk het.
Die mense het nie vuurwerke in die burgemeester se kantoor gesien nie. Hulle was in ‘n gebou in die hartjie van die stad, ver weg van die Hell Gate kanaal in New York se Hawe. Nie een van die mense in die kantoor het iets gesien of die ontploffing gehoor nadat die dogtertjie die skakelaar gedruk het nie. Hulle het eenvoudig geglo dat alles sou verloop soos beplan is.
Hierdie vertroue is bevestig toe ‘n opgewonde stem ‘n paar minute later oor die foon aan-kondig: “Daar is nie meer ‘n Hell Gate nie!”
Daar is vandag nog steeds naamborde naby die Hawe met die naam Hell Gate, maar die werklike Hell Gate is reeds meer as ‘n eeu gelede vernietig.
‘n Klein dogtertjie se gehoorsaamheid het die bedrieglike rotsmassa verwyder uit die kanaal waar baie mense hulle lewens verloor het. Dit was net ‘n eenvoudige daad van ‘n gehoorsame dogtertjie wat die plofstowwe laat ontplof het en daardie gevreesde Hell Gate aan flarde geruk het.
Vandag wil God die geestelike hekke na die hel vernietig wat soveel negatiewe invloed op die lewens van mense uitoefen. Wanneer ons Hom gehoorsaam met die geloof van ‘n kindjie, sal Hy Sy ongekende mag gebruik en elke demoniese invloed ver-nietig wat die hemele bokant ons toesluit. Dit is die wonder en misterie van die kruis: Selfs prostitute, diewe, teruggevallenes en klein kindertjies kan God se onge-looflike krag vrystel deur hulle sondes te bely, Hom gehoor-saam te wees, en hulle aan Hom te onderwerp. Dit is nie ons krag wat die klippe voor die grafkelders van ons lewens verwyder nie. Dit is die krag van God wat deur ons nederige gehoorsaamheid vry-gestel word.
[Uit: As die Hemel bo my toeskuif... Waarom? John Kilpatrick, VGU, 1997]

Indeks     Index