WARE RYKDOM... | |
  |
Dis nie wat om my is nie, maar wat binne-in my is, wat tel. Dit is nie wat ek besit nie, maar wat ek is, wat my gelukkig of ongelukkig maak. - Goethe Daar is die storie van 'n baie ryk man wat op 'n klein dorpie gewoon het. Een aand het hy met sy perd in 'n woud op sy landgoed gaan ry en op 'n brandarm, stokou man afgekom wat hardop besig was om die Here te loof en te prys vir Sy goedheid. Die ryk man was verbaas dat dié bejaarde omie wat in sy oë glad niks gehad het waaroor hy kon bly wees nie, so gelukkig was. Skielik het daar 'n digte mis opgekom - so dig dat die ryk man op 'n stadium bang was dat hy sou verdwaal. Uit die mis het hy 'n stem hoor sê: “Vannag gaan die rykste man in die dorp sterf.” Die ryk man was vreesbevange - hy het goed geweet dat hy die rykste man in die dorp was. In aller yl het hy hom teruggehaas na sy huis toe. Hy het die beste dokter laat kom om die hele nag by hom te waak. Eers toe hy die son deur sy kamervenster kon sien opkom, het hy 'n sug van verligting geslaak - die nag was om, en hy het nog geleef! Daardie oggend het hy die dorpie naby sy landgoed besoek en gehoor dat die ou man wat hy die vorige aand in die woud hoor bid het, dié nag oorlede is. Toe hy terug was by die huis, het hy vir sy vrou vertel dat die rykste man in die dorp die vorige nag dood is. “Hoe kan jy so sê?” het sy gevra. “Jy is dan die rykste.” “O nee,” het die ryk man geant-woord, “ek weet nou dat geld en goed 'n mens nie gelukkig kan maak nie. Die rykste én die geluk-kigste man is dié een wat die Here ken en liefhet.” [Uit: Vonkelvreugde, Nina Smit, Carpe Diem Media, 2001]. |