DIE HERE HET WÉÉR VOORSIEN!!!
 

Op Sondag, 23 Oktober 2011 was ek en ons drie kinders in 'n motorongeluk betrokke. Ons was van die kerk af op pad terug na Africa School of Missions, wat ongeveer 13 km buite Witrivier geleë is. Dit was 12:00 en baie warm (38o C) buite.
Ongeveer 2 km vanaf die huis, het ons om 'n draai gekom waar daar olie oor 'n gebied van 150 meter oor die pad gelê het. Ons voertuig het op die olie gegly, getol en teen 'n groot vragmotor gebots.
Met die slag teen die vragmotor het die linkerkantste wiel uitgeruk en het die motor verder gegly en om nog 'n draai getol. Daarna het dit mooi netjies tot stilstand gekom langs die geel lyn van die pad, so asof ek die motor net daar gaan parkeer het.
Ten spyte van die gly en tol het dit vir die vragmotorbestuurder gelyk asof ek beheer oor die motor gehad het. Maar, dit was nie “ek” nie, dit was net God wat daar was om my by te staan. Ek het geen beheer gehad nie - die remme wou nie werk nie en die stuurwiel ook nie! Ons loof God vir Sy wonderlike beskerming!
God het ons lewens op 'n wonderlike wyse gespaar en ons het Sy groot genade oor ons ervaar! Ons motor is afgeskryf en die versekering het net R10 000 uitbetaal. Ons het alles aan God wat al die antwoorde het, oorgegee. Self het ons maar net gebid en vertrou.
Twee weke na die ongeluk kry ek 'n e-pos van baie goeie vriende wat laat weet dat die Here dit op hul harte lê om van hul spaargeld vir ons te saai sodat ons weer 'n motor kon koop. Twee ure nadat ek die e-pos gelees het, bel 'n pastoor van 'n gemeente van 'n ander dorp en sê daar is twee persone in daardie gemeente wat geldelik vir ons wil bydra vir die koop van 'n motor. En so was daar nog 'n paar mense wat finansieel bygedra het en dit vir ons moontlik gemaak het om weer 'n ander motor te kon koop. Ons het twee weke lank 'n bedrag geld byderhand gehad en was op die uitkyk vir 'n spesifieke motor.
Ons wou graag 'n wit motor hê met leersitplekke wat maklik kan skoonbly. Dit moes ook 'n nuwer model wees as wat ons gehad het, met lae kilo's en 'n haak.
Nadat ek een oggend gebid het, sê die Here vir my dat ek vir Nissan in Middelburg (Mpumalanga) moes bel. Ek het mooi aan die vloerbestuurder verduidelik wat ons graag wou koop en hy het vir my gesê dat hy net die regte motor vir my het. Dit is een wat net die vorige dag daar aangekom het as inruiling op 'n ander motor.
My man, Izak, het die bestuurder geskakel en ons het alles gekry waarvoor ons gevra het en nog méér! Ons het ook afslag gekry op die koopprys omdat ons die motor kontant kon koop. Hoe wonderlik het die Here vir ons voorsien! Tot in die fynste detail...
Elke keer wanneer ons in die motor klim, prys ons die Here vir die wonderwerk! Hoe kan 'n mens ooit in woorde vir die Heer genoeg dankie sê vir só ‘n groot geskenk?


Indeks     Index