HOORDERS MAAR NIE DADERS NIE
  Ons is van nature selfsugtig, en wil eerder ontvang en bedien word as om na ander uit te reik. Die gevaar bestaan dat ons God se Woord ken, preke en boodskappe hoor, waarhede uit die Skrif leer ken en geestelike boeke lees wat ons aanspoor, maar tog nie dit wat ons ken, uitleef nie.

Ons ken die waarhede, maar ons leef dit nie uit nie - die teorie en praktyk kom nie bymekaar uit in ons lewe nie. Ons is nie 'n voorbeeld vir ander nie. Ons weet ons moet getuig, dien, liefde betoon, breek met die sonde en reg lewe, maar in die praktyk doen ons dit nie en kom ons nie eens so ver om die eerste gehoorsaamheidstree te gee nie.

'n Ander rede waarom ons nie geestelik groei nie, kan wees dat ons opgehou het om in die wedloop te hardloop. 'n Mens raak moeg en soms is die wind van voor en dan wil jy tou opgooi en uitsak. Miskien het ons ophou oefen, of toetse en teenkanting het ons moedeloos gemaak. Miskien het ander se spot veroorsaak dat ons seergekry en op 'n hopie gaan sit het. Almal van ons struikel soms, maar die belangrike waarheid is dat ons dadelik weer moet opstaan en verder hardloop!
Ons mag nie bly lê en onsself bejammer, of uitskuif om passief op die pawiljoen te gaan sit en krities en vol verskonings te wees nie. Die geheim van geestelike groei is om met volharding aan te hou totdat ons by die wenpaal kom!

PAULUS EINDIG GOED
Paulus is 'n toonbeeld van iemand wat enduit volhard het. Hy kon sy eie voorbeeld vir ander voorhou om hulle aan te spoor om soos 'n goeie sportman met volle oorgawe te volhard tot by die wenpaal. Paulus skrywe aan Timoteus om nie te verslap of uit te sak in die wedloop nie.

“Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die Evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit. Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na Sy koms” (2 Timoteus 4:5-8).

Paulus het sy lewe lank gefokus gebly. Hy wou altyd nader kom aan God en aan die vervulling van sy roeping. Hy het bly fokus op die doel vir sy lewe. Hy het sy lewe gevul met dinge wat ewigheidswaarde het en wat vir Gód belangrik is. Hy het nie net hard gewerk nie, maar hy het die régte dinge gedoen. Paulus het homself opgeoffer en alles vir ander se heil gegee. Omdat hy tot geestelike volwassenheid gegroei het, het dit vir Paulus net om een ding gegaan: om ander na Christus te lei en hulle te help om geestelik volwasse te word sodat hulle weer op hulle beurt na ander kon uitreik.

Dit is belangrik dat 'n mens by die Here uitkom en dat jy jou geestelike lewe goed begin. Maar miskien is dit nog belangriker om goed te eindig. Daarom is dit belangrik om te dink aan die einde van ons lewe, en of ons dalk ons vuur, liefde en ywer vir die Here verloor het. “Julle moet verder gaan en nie stilstaan nie” (Hebreërs 6:1). God het ons hierdie opdrag gegee en ons moet dit gehoorsaam. Ons moet gehoorsaam bly deur geestelik te groei en vorentoe te beweeg in ons geestelike lewe.
[Uit: BESTEM VIR GEESTELIKE GROEI, Dirkie van der Spuy, Struik Christelike Boeke, 2004].

Indeks     Index