KRAG EN GENADE | |
  |
God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig! (Psalm 18:33). Christene bid so dikwels om krag en genade! Maar weet ons waarvoor ons vra? Ons sug so dikwels: “Gee my krag!” Wat bedoel ons daarmee? In ons gesin was dit in 'n stadium die modewoord: “Gee my tog krag en genade!” Of: “Laat ons bid vir krag en genade!” Dit word dan gesê om aan te dui dat jy 'n bietjie moedeloos is en nie weet hoe om 'n situasie te hanteer nie. KRAG Die Bybel sê dat die Here ons omgord met krag sodat ons die uitdagings van die lewe die hoof kan bied. “Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (Psalm 18:30). Die Here wil my dus met Sy krag versterk om alle uitdagings en probleme die hoof te bied. Die Here gee sekerlik vir ons die liggaamlike krag om ons werk te kan doen. Maar Hy versterk ons ook geestelik! Hy gee vir ons moed en deursettingsvermoë. Hy gee ook vir ons die breinkrag, sodat ons probleme kan deurdink en oplossings daarvoor kan kry. Hy gee ook vir ons die krag om pyn te verduur en lewenslaste te dra. In Jesaja 40:29 lees ons dat die Here krag gee aan die vermoeides wat nie meer verder kan nie. Daar is ook sprake daarvan dat die Here in moeilike omstandighede ons kragte vernuwe (Jesaja 49:5). Ons kan dus vir die Here bid om krag: vir die dag met sy uitdagings, vir jou werk en belangrike opdragte wat jy moet uitvoer, vir siekte en pyn, vir nuwe moed om op te staan en aan te gaan met die lewe. Ons kan van die Here liggaamlike en geestelike krag vra. Maar dan moet ons die Here ook vertrou dat as ons van Hom krag gevra het, Hy dit sal voorsien. 'n Mens behoort geen dag te begin sonder dat jy gebid het vir krag om die dag te hanteer nie. En as ons dit opreg bedoel en die Here werklik vertrou, sal ons uitvind dat dit 'n verskil maak! GENADE Die woord “genade” dui daarop dat ons iets ontvang wat ons eintlik nie verdien nie; waarop ons eintlik nie aanspraak kan maak nie. Genade dui op die guns van die Here en op Sy barmhartigheid. Hy gee vir ons redding en verlossing, sonder verdienste! “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie…” (Efesiërs 2:8,9). As ons dus om krag en genade bid, dan besef ons dat die krag waarvoor ons vra, ook genade is wat God aan ons gee! Ons verdien nie die lewenskrag wat ons vra nie. Dit is 'n geskenk van die Here. Trouens, alles wat ek vra vir die dag wat voorlê en alles wat ek vra om die lewe te hanteer, gee God aan my uit louter genade. Om my werk te doen en my probleme op te los, het ek die Here se krag nodig. Om op te staan nadat ek geval het, het ek die Here se krag nodig. Maar ek kan nie daarop aanspraak maak dat ek dit verdien nie! “Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen” (Gesang 226:1). Ons kan staatmaak op die krag van die Here sodat ons suksesvol kan lewe! God belowe ons Sy krag uit vrye genade! Ons verdien dit nie! En as 'n mens dan kyk na alles wat die Here elke dag vir ons gee, besef ons dat ons Hom nooit genoeg dank en eer kan bewys vir alles wat ons so onverdiend uit Sy Hand ontvang nie! “Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop” (Habakuk 3:19). [Uit: GOD VERSTAAN JOU HART, Ampie Barnard, Carpe Diem Boeke, 1997]. |