'N LEWENSNOODSAAKLIKHEID
  “Soos hy in sy siel bereken, so is hy” (Spreuke 23:7).
Gedagtes van die sondige natuur teenoor geestelike gedagtes
“Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees” (Romeine 8:5).
Die agtste hoofstuk van Romeine leer ons dat ons sonde sal doen as ons deur ons sondige natuur oorheers word. Maar wanneer ons kies om God te volg, sal die Heilige Gees ons beheer en lei .
Anders gestel, kan 'n mens sê dat ons nie geestelik kan lewe as ons gedagtes vleeslik, verkeerd en negatief is nie. Ons gedagtes moet vernuwe en beheer word deur die Heilige Gees, sodat ons gelykvormig kan word aan Christus en God se wil kan ken en doen. Dit is noodsaaklik vir 'n suksesvolle lewe as Christen!
Mense is dikwels te lui om iets te doen omdat hulle nie besef hoe belangrik dit is om daaraan aandag te gee nie. Maar wanneer hulle insien dat dit 'n belangrike saak is wat groot probleme sal veroorsaak as hulle dit nalaat, kom hulle in rat en maak werk daarvan.
Neem as voorbeeld 'n oproep van die bank om jou in kennis te stel dat jou rekening met 'n groot bedrag oortrokke is. Jy probeer dadelik die probleem opspoor. Dalk kom jy agter dat 'n deposito wat jy gedink het jy gemaak het, nooit inbetaal is nie. Jy gaan dadelik bank toe om die geld te deponeer en daar is geen verdere probleme nie.
Ek raai jou aan om die vernuwing van jou gedagtes met dieselfde erns en dringendheid te bejeën.
Jou lewe kan dalk chaoties wees omdat jy al jare lank op die verkeerde manier gedink het. As dít die geval is, moet jy besef: jou lewe gaan nie regkom totdat jou gedagtes reg is nie. Jy moet dit as lewensnoodsaaklik ag. Maak erns daarmee om die vestings wat Satan in jou denke opgerig het, te vernietig. Gebruik die wapens wat jy het, soos die Woord van God, lofprysing en gebed.

Wandel deur die Gees
“Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees, sê die Here die Almagtige” (Sagaria 4:6).
Die beste manier om vry te word van vleeslike begeertes, is om God se hulp te vra - en Hom dit daagliks te vra. Een van jou wapens is gebed (jy vra). Jy kan nie bloot deur vasberadenheid en wilskrag jou situasie verbeter nie. Jy móét vasberade wees, maar vasberade in die Heilige Gees, nie in jou eie krag nie. Die Heilige Gees is jou Helper - vra Hom om hulp. Steun op Hom. Op jou eie sal jy dit nie regkry nie!

'n Lewensnoodsaaklikheid
Dit is lewensnoodsaaklik vir die gelowige om geestelik en volgens God se perspektief te dink. Dit is só belangrik! Dit is soos polsslag en bloeddruk - daarsonder kan ons nie lewe nie! Die Here het my jare gelede bewus gemaak van die ewigheidswaarde van persoonlike gemeenskap met Hom deur gebed en Bybelstudie. Dit was vir my baie moeilik om myself te dissiplineer om hierdie dinge te doen totdat Hy my gewys het dat dit lewensnoodsaaklik is! Net soos my lewensfunksies nood-saaklik is vir my fisiese voort-bestaan, is gereelde gemeenskap en gehaltetyd saam met God noodsaaklik vir my geestelike welstand. Toe ek besef dat gemeenskap met Hom lewens-belangrik is, het ek dit voorrang in my lewe begin gee. So het ek ook ernstiger my gedagtes begin evalueer. Ek het besef dat die regte denkwyse noodsaaklik is vir 'n oorwinnende geestelike lewe. Ek het begin om my gedagtes versigtig te kies.

Jou gedagtes bepaal hoe jy optree
“As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken” (Matteus 12:33).
Die Bybel sê dat 'n boom aan sy vrugte geken word. Dit geld ook vir ons lewe. Gedagtes dra vrugte. As jy goeie gedagtes dink, sal die vrugte in jou lewe goed wees. As jy slegte gedagtes dink, sal die vrugte in jou lewe sleg wees.
Uit iemand se gesindheid kan jy trouens agterkom watter soort gedagtes sy lewe oorheers. 'n Gawe, goedhartige mens koester nie gemene, wraaksugtige gedag-tes nie. Net so het 'n werklik bose mens ook nie goeie, liefdevolle gedagtes nie. Onthou dat jou gedagtes bepaal wie jy is en hoe jy optree! - Wen die Stryd in Jou Gedagtes, Joyce Meyer, Struik Christelike Boeke, 2007.

Indeks     Index