HOE BELANGRIK IS OEFENING VIR JOU?
  Die Comrades Marathon is pas verby, en ons kon saam met die wenners bly wees - hulle wat goud gekry het. Ander was dankbaar om silwer en ook brons te kry. En dan was daar diegene wat nie die wedloop kon voltooi nie. Maar elkeen sal vir jou kan vertel hoeveel oefening en inspanning dit geverg het om te kon deelneem en te probeer om superfiks te wees. Baie, baie voorbereiding en oefening het die wedloop voorafgegaan. So is dit met elke sportsoort. Dit kos baie harde werk, en dit is nie sonder waarde nie.
Wanneer ons die Bybelse perspektief op oefening bedink, kry ons 'n ander prentjie: “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het” (1 Tim. 4:8). 'n Ander letterlike vertaling lui: “Physical exercise has some value, but spiritual exercise is much more important, for it promises a reward in both this life and the next.” En dan ook die Amplified Bible: “For physical training is of some value (useful for a little), but godliness (spiritual training) is useful and of value in everything and in every way, for it holds promise for the present life and also for the life which is to come.”
Die Bybel spreek hom nie uit teen liggaamlike oefening nie. Natuurlik het ons voortdurende oefening vir ons liggaam nodig, want ons moet ook ons liggame oppas en versorg om goed te funksioneer. In die Bybel vind ons egter 'n ander oefening wat bygebring word, naamlik geeste-like oefening. Hierdie geestelike oefening moet daagliks gedoen word. Waarom is dit so belang-rik? Omdat dit ewigheidswaarde het!
1 Tim. 4:7 lui: “Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid.” “Train yourself toward godliness (piety), [keeping yourself spiritually fit]” (Amplified Bible).
Hoe oefen ek geestelik? Soos ons reeds opgemerk het, oefening en fiksheid kom deur harde werk. So ook geestelik. “Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly” (Nuwe Vertaling). Verwerp dus enigiets wat nie tot geestelike groei kan bydra nie, al het dit 'n “godsdienstige geurtjie”. Hebreërs 12:1 sluit hierby aan: “…laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê…” Dit is natuurlik die beeld van 'n atleet wat op die (geestelike) baan harloop. Hy moet hom van alles stroop wat hom kan verhinder om die wedloop te voltooi. Harde werk beteken dus dat ons elke dag met geestelike oefening moet besig wees. Ons doen dit deur ons aan God toe te wy deur Bybel te lees en te bid, ook voortdurend besig te wees met die werk van die Here deur ander mense geestelik te bedien en só die wedloop met volharding te voltooi.
Laat ons dan die liggaamlike oefening nie nalaat nie, maar veral ook die geestelike oefe-ning met toewyding doen!
© Dr. JJ Venter

Indeks     Index