DOEN SELF WAT JY VIR ANDER VOORSKRYF...
  Ons almal ken mos die Engelse gesegde: Practise what you preach. Min woorde, maar met baie krag!
Onlangs kyk ek na 'n preek op die TBN TV-kanaal en hoor die prediker sê ons moet leer om God van voor af te vertrou - òf jy Hom pas as jou Saligmaker en Verlosser aangeneem het, òf al lankal deel is van Sy Liggaam. Dat ons telkens wanneer ons bid, Hom éérs moet vra om ons te help om Hom met ons gebede te vertrou.
Hoeveel van ons is nie skuldig daaraan om ná 'n passievolle gebed wéér vasgevang te word deur ons eie emosies met betrekking tot ons omstandighede nie? Ek is daaraan skuldig, want sodra jy van jou knieë af opstaan, lyk alles steeds dieselfde! Omdat dit steeds dieselfde is... Jy het nou pas eers gebid en jou geloof moet mos nog geaktiveer word! So verkondig ek hierdie prediker se insiggewende boodskap met passie aan elkeen wat wil luister sonder om werklik te besef en te doen wat ek vir ander “preek”... Op die laaste dag van April staan ek vroegoggend in ons besigheid en staar met benoudheid in my hart na die maand se onrus-barende syfers. Die baie vakansiedae laat die uitgawes en inkomste eenvoudig net nie toe om te klop nie!
Ek onthou skielik weer daardie preek en gaan sit op my stoel. Ek praat met God en sê ek WEET dat Hy my kan hoor en dat ek Hom vandag net soos 'n kind met my HELE hart gaan vertrou vir 'n wonderwerk (omdat kinders glo nog voor hulle gekry het).
Met 'n kloppende hart behartig ek die eerste transaksie vir die dag. Die gewone. En toe die tweede een: R22 550.00! Tienuur daardie oggend nog een: R36 850.00! Die meeste nóg vir een dag gedu-rende die hele jaar wat ons besigheid nou eers oop is!
Die volgende dag beloop my man se eerste transaksie R36 000.00! Die dag eindig met R37 820.00. 'n Paar dae later - tussen die gewone transaksies deur - my volgende geloofstransaksies van onderskeidelik R11 800.00, R17 125.00, R18 100.00, ens. En toe! My grootste enkeltransaksie tot hede - 'n allemintige R77 250.00! (Ek glo en vertrou dat dit nie die laaste keer is dat dit gebeur nie!)
Ek weet nou nog meer as ooit vantevore dat kinderlike geloof God behaag omdat grootmensgeloof dikwels so beperk is!
Ek vertrou dat my getuienis jou vandag nuwe moed gegee het, want as God dit vir my kan doen, KAN Hy dit vir JOU ook doen! Alle EER aan GOD! Dankie Heer, NIKS is vir U onmoontlik nie!
(Amanda 073 385 4792)

Indeks     Index