DEUR GOD SE GENADE
 

Ek wat 'n baie gesonde mens was het een oggend in my stiltetyd die Skrif-gedeelte gekry wat sê “Ek sal niks oor jou pad bring wat jy nie sal kan hanteer nie.”

Ek was skrikkerig want op daardie tyd het ek al vir 2 jaar met erge hoofpyne gesukkel. Die mens in my het gewonder wat die boodskap sou beteken. Ek was gereeld by die dokters en het elke keer ander pille gekry.

Nadat ek een aand in die hospitaal beland het en ek 'n “lumber punch” moes kry (wat later ook as groot fout beskou is), is ontdek dat daar groot fout is. Ek is toe na 'n dokter in Bloemfontein verwys. Hy het my dadelik vir 'n MRI-skandering gestuur.

Die wonder is dat GOD my na hom gestuur het, want hy spreek nie normaalweg buite-pasiënte nie. Na die skandering het hy ons geskakel en gevra dat ons weer na hom toe moes kom. Hy het gesê dat hy vir ons 'n afspraak by 'n chirurg gemaak het.

Die chirurg het gesê dat ek 'n breingewas het, maar dit was nie kwaadaardig nie. Hy sou egter dadelik moes opereer, want die gewas het al tot by die middellyn van die brein gegroei. Ek was baie kalm. Min mense het dit verstaan, maar dit was oor die Skrifgedeelte wat ek vroeër gekry het, asook baie vriende se gebede.

Ek is op 'n Maandag geopereer en die volgende Maandag ontslaan. Al wat anders was, was die doeke om die kop. Agterna moes ons hoor dat ek eintlik 'n 50/50 kans op ‘n geslaagde operasie gehad het.

Met verloop van tyd het ek een oggend in die spieël gekyk en die holte van die operasie gesien. Dit het my gepla totdat ek daaraan gedink het hoeveel erger dit kon wees. Dit is so dat die uiterlike nie soveel tel nie, maar die innerlike wel. Daarom kan ek vandag net vertel hoe groot GOD se liefde en genade is! Ek gee aan Hom al die eer!

- Petra Agenbach, 082 630 2587

Indeks     Index