UITGEPUT EN OORLAAI?
  Die eise van die lewe voel vir ons soms so oorweldigend dat ons nie weet hóé om dit te bowe te kom nie. Hoe sal ek ooit weer lig kan sien? Is daar uitkoms uit hierdie situasie waarin ek my nou bevind? Die oplossing vir my probleme lyk so onmoontlik!

Dit is dán dat die woorde van Jesus na ons toe kom: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is (Nuwe Vertaling: “...almal wat uitgeput en oorlaai is”), en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en My las is lig” (Matt. 11:28-30).

Die primêre betekenis van hierdie gedeelte is waar: Niemand kan op eie pogings staatmaak deur die Wet te onderhou en te hoop om daardeur saligheid te ontvang nie. So ‘n persoon sal net “onrus” beleef. Dit kan hom slegs “vermoeid en belas” laat, sonder dat hy saligheid kan ontvang. Dáárom Jesus se uitnodiging.
Tog kan hierdie teks ook ‘n wyer betekenis hê. Ons kan met AL ons laste, sorge, probleme, bekommernisse, siekte en ons eie worsteling om oplossings te vind vir al ons probleme, na Jesus toe kom en rus vind by Hom. Ons eie geswoeg kan ‘n ysterjuk wees wat te swaar kan wees om te dra, terwyl Hy sê “My juk is sag en My las is lig.”

Die Griekse woord vir “vermoeid / uitgeput” is “kopiao” wat letterlik beteken om “uitgeput, afgemat, uitgemergel” te wees. En die Griekse woord vir “belas/ oorlaai” is “phortizo” wat letterlik beteken “om ‘n swaar las te dra”.

Vir diesulkes wat na Jesus toe kom, belowe Hy rus. Die geheim is egter om letterlik met die laste en uitgeputheid na Hom toe te kom! Neem die Woord op sigwaarde en bid só: “Jesus, ek kom na U toe met hierdie probleme van my (noem hulle een vir een), en op gesag van U Woord en belofte aanvaar ek nóú die rus wat U belowe.” Neem dit in geloof aan en dank Hom daarvoor!

Die gedagte van “rus” word ook in die Hebreeuse teks (Ou Testament) gevind in Jesaja 28:12 - “Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus (“menu-chah”), gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie.” “Menuchah” beteken letterlik “vrede, rus-plek, stil plek, tevredenheid, vertroosting”. (Dit is van hier-die woord wat Noag se naam afgelei is).

Dit is die rus wat die gelowige kan vind in Psalm 23:2 - “Hy laat my neerlê in groen wei-velde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” Die vermoeide vind rus aan Sy voete.

Steeds kom die uitnodiging van die Woord: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17). Kom nóú met jou laste en sorge na Jesus toe, en vind rus aan Sy voete!
© Dr. JJ Venter

Indeks     Index