"HOE GROOT IS GOD?"



  'n Seun wou by sy pa weet hoe groot God is. Sy pa sê vir hom dat hy hom die volgende dag sal wys as hulle Johannesburg toe ry.

So dertig kilometer van die stad af, hou hulle op 'n hoogte stil en die pa wys die kind die Strijdom-toring. Hy vra hom hoe groot die toring is. Die outjie meet toe die toring so op 'n afstand tussen sy duim en voorvinger en verduidelik vir sy pa dat dít is hoe groot die toring is.

Hulle klim in die motor en ry verder. In die stad gekom, ry die twee tot teenaan die toring. Die seun staan hom en verwonder aan die massiewe toring waarteen hy opkyk. Sy pa vra hom toe om weer die toring te meet. Vol verwondering sê hy vir sy pa dat hy dit nie meer kan doen nie omdat die toring nou té groot is!

Sy pa sê toe vir hom: "My kind, so is dit ook met God. Hoe verder jy van Jesus af leef, hoe kleiner word God vir jou en jy meet Hom soos dit jou pas. Hoe nader jy aan Jesus lewe, hoe groter word God vir jou. Dan meet jy Hom nie meer nie, maar aanbid Hom met verwondering!" - Oorgeneem


Indeks     Index