WANNEER JY JOU KROON VIR 'N 'OVERALL' INRUIL... |
|
  |
"Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: 'Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?' Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: 'As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees'" (Markus 9:33-35). Jy hoef nie 'n spesiale soort Christen te wees voordat jy iets vir God kan beteken nie. Nee, jy moet maar net 'n gelowige wees wat Hom elke dag op Sy woord neem. Dit is al wat saak maak. In Markus 9 lees ons dat Jesus se dissipels op 'n dag met mekaar gepraat het oor wie die belang-rikste in die Koninkryk van God was. Miskien het hulle in die stilligheid gehoop dat hulle name ook op hierdie "ranglys", op die Who's who in die Koninkryk, sou verskyn. Maar Jesus het die wind heeltemal uit hulle seile gehaal met Sy opmerking dat die werklik groot persone in Sy Koninkryk diegene is wat dit self nie eens weet nie. Dit is toe nie Moses of Elia of Johannes die Doper of een van die twaalf dissipels wat met die louere wegstap nie. Nee, dit is diegene wat soos klein kindertjies in God glo. Dit is gelowiges wat hulle naaste sonder voorbehoud dien en wat nie die heeltyd telling hou van alles wat hulle vir God en vir ander mense doen nie, wat regtig groot is in Sy oë. Hiermee bedoel Jesus natuurlik nie dat laasgenoemde 'n hoër status in God Se oë as ander gelowiges het nie. Nee, Hy wil net hiermee sê dat die rolle in Sy Koninkryk heel-temal omgeruil is. Werklik bruik-bare gelowiges vir God is hulle wat soos klein kindertjies op Hom vertrou en wat terselfdertyd die mense rondom hulle se nood raaksien. 'n Mens mag nooit jou wêreldse opvattings oor belangrikheid en sukses in die Kerk indra nie. God stel in die eerste plek nie belang in al wat geestelike suksesverhaal is nie, maar eerder in gelowiges wat hulle selfgemaakte krone van selfsug, eie eer en magsbeheptheid ingeruil het vir 'overalls', vir diensknegklere! Diegene wat van die oggend tot die aand loop en praat oor al die groot dinge wat hulle vir die Here doen en oor al die visioene wat hulle kwansuis ontvang, mag miskien ander mense beïndruk, maar nie nood-wendig vir God nie. Hy raak eerder opgewonde oor diegene wie se linkerhand nie eens weet wat hulle regterhand doen nie, oor hulle wat in die stilligheid aan ander goed doen om Sy Naam daardeur te verheerlik. Christene wat geleer het om hulle eie belange tweede te stel, is regtig vir God bruikbaar. Maar dit is nie maklik om van jou eie troon te abdikeer nie. Om jou aardse koninkrykie in te ruil vir God se Koninkryk vra geweldig baie. Dit vra jou hele lewe. Dit vra onder andere dat jy sal ophou om die soeklig op jouself te laat val en om dit volledig na God toe te verskuif, waar dit in elk geval hoort. Dit vra dat jy uit jou gemakstoel sal opstaan om 'n slag regtig vir die Here te begin lewe. Dit vra dat jy sal ophou om te dink dat die Kerk in jou diens is omdat jy mos jou maandelikse "ledegeld" betaal. Die Kerk bestaan vandag uit gans te veel konings en koninginne, uit mense wat net van die oggend tot die aand gedien en bedien wil word. Daar is ongelukkig baie wat tevrede is as dinge in die Kerk gaan soos wat hulle dit graag wil hê. Wanneer die kerkraad hulle nie meer getrou genoeg besoek nie, of wanneer hulle nie gereeld op die skouer geklop word vir alles wat hulle vir die Kerk doen nie, is hulle op die plek omgekrap. Sommige van hulle gaan selfs so ver as om vir hulle 'n ander Kerk te gaan soek wat meer by hulle eie (selfsugtige?) behoeftes pas. Godsdiens het vir baie mense 'n egosentriese aangeleentheid geword. Onder die dekmantel van 'n hele rits vroom clichés word baie selfsugtige sondes oog-lopend geduld. En dit is net die Kerk se eie skuld. Want ons het toegelaat dat nuwe definisies van vroomheid onder Christene pos-vat wat nie aldag met die Bybel strook nie. Jesus kom wys egter opnuut vir ons selfgesentreerde Christendom aan die begin van die een-en-twintigste eeu wat ware grootheid is. Dit hou vir Hom verband met gelowiges wat diensknegte geword het, met mense wat hulleself vergeet het ter wille van Sy Vader se Ryk. Hy was ook bereid om Sy hemelse kroon en die aanbidding van die engele in te ruil vir 'n stal, 'n kruis en 'n graf. Hoe kan ons dan nou enigsins anders wil gaan lewe as ons Meester? Jesus nooi ons dringend uit om Hom te kom toets. Hy wil hê dat ons dit moet waag om ons lewe regtig in Sy Hande te plaas. Hy vra ons mensgemaakte koningskrone en die grondgebied van ons hart heeltemal vir Homself. Sal jy ook hierdie uitnodiging ernstig oorweeg? Sal jy bereid wees om uit die kollig van die wêreld te tree en so te gaan leef dat jou woorde, dade en gedagtes al die lig op Christus laat val? As jy bereid is om dit te doen, het jy regtig die geheim van Sy Koninkryk ontdek. En dan het jy ook sommer 'n reuse tree op die pad na geestelike groei gegee! [Dit kos guts om te bly glo, Stephan Joubert, Lux Verbi.BM, 2003]. |