DIE LIEFDE IS NIE STOM NIE...



  Richard Barthelmess, 'n voormalige Broadway-akteur, het sy huis geskakel en 'n afspraak met sy pragtige vrou, Jessica, gemaak. Hulle was een van die min gesinne in die vermaaklikheidswêreld wat 'n baie mooi verstandverhouding gehad het.

Hy het gesê sy moes haar gereed maak vir 'n aandete by haar gunsteling eetplek. By die restau-rant aangekom, het pragtige blomme die tafel versier en die violis van die aand is deur hom gevra om sy vrou se gunsteling-liedjie te speel. Dit was 'n lieflike, romantiese en wonderlike ete. Na die ete is hulle na hul gunsteling-hoekie vanwaar hulle 'n pragtige uitsig oor die blink liggies van die stad gehad het.

Hy het albei haar hande in syne geneem, diep in haar oë gekyk, vir haar vertel hoe pragtig sy was, wat 'n wonderlike vrou sy vir hom was en hoe lief hy haar gehad het. Sy het gesê dat sy hom ook liefhet en dat dit 'n wonderlike aand was. Sy was verseker van sy liefde, maar het gewonder waarom hy daardie aand soveel spesiale moeite gedoen het.

Hy het haar toe vertel dat hy daardie dag by die dokter was en dat die dokter hom meegedeel het dat hy keelkanker het. Hy sou die volgende dag 'n operasie onder-gaan waarna hy nie meer die gebruik van sy stem sou hê nie. Dit was dus die heel laaste keer dat hy die kans gegun was om verbaal sy diep liefde en waar-dering aan haar oor te dra.

Ons is tog só huiwerig om ons diepste gevoelens aan mense oor te dra; selfs aan die belangrikste mense in ons lewe! Laat ons nie net die beste glo nie... maar laat ons die beste ook aan mense vertel...

[Geen Groter Liefde, Robert Strand, VG Uitgewers, 1996].

ooo OOO ooo

"Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en Sy lewe daarvoor afgelê het. Daar staan in die Skrif: Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees. Hierin lê daar 'n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so liefhê soos hy homself liefhet, en 'n vrou moet aan haar man eerbied betoon."

(Efesiërs 5:25,31-33 Nuwe Vertaling).

Indeks     Index