DIE HERE LAAT ONS NOOIT ALLEEN |
|
  |
Graag deel ek met u wat verlede jaar gedurende Augustus met my gebeur het. Ek is 'n verpleegkundige by 'n hospitaal in Klerksdorp. Moeg gewerk en bekommerd oor 'n pasiënt gaan ek van diens af. By die huis aangekom, sit ek die huis se alarm af en sluit die motor. Terwyl ek besig was om die agterdeur oop te sluit, storm 'n man op my af met 'n stuk materiaal oor sy kop met gleuwe vir sy twee oë, en met 'n stuk yster in sy hand. "Vandag maak ek jou vrek!" sê hy en slaan my oor my kop met die stuk yster en ek gryp die yster vas. Ek skreeu hard om hulp maar niemand hoor my nie. Hy haal 'n mes uit en begin my te steek. Op my hand en op my bolyf sodat ek die yster moet los. Terwyl ek daar lê, voel dit vir my soos 'n droom. Dit kan nie waar wees nie! Dit kan nie regtig met my gebeur nie! Gou besef ek dat ek myself sal moet regruk. Ek probeer hom kalmeer en sit regop. Hy bind my twee hande aanmekaar vas en help my op. Op daardie stadium het my selfoon uit my sak geval. Hy tel my foon op en sit dit in die kant van my werksak. Hy tel my werksak op en dra dit in. In die kombuis vra ek vir water, en hy gee my 'n glas met water. Terwyl hy my hande voor my vashou, lei hy my deur die huis na my kamer toe. Orals in die huis is daar paniekknoppies, maar ek kan niks doen nie. Hy sit my werksak in die kamer neer en vra my vir geld. Ek antwoord dat ek niks geld het nie; my beursie was dolleeg. Ek sê toe vir hom dat hy my kamera en videomasjien kan neem. Toe onthou ek dat daar wel geld in die kluis moet wees. My man se sakgeld. Ek beduie hom waar die kluis se sleutels is en hy sluit dit oop. Binne in die kluis is ook vuurwapens. Die man sien hulle nie raak nie, want hy is net geïnteresseerd in die geld. Nadat hy die geld geneem het, sluit hy weer die kluis en bêre die sleutels presies waar hy dit gekry het. Toe vat hy al my juwele wat ek aangehad het: my trouring, horlosie, oorkrabbers en hangertjie waaraan ek baie waarde geheg het. Dit was my kruisie en Jerusalemster. Alles het so vinnig gebeur! Ek sit aan die onderkant van my bed. Baie gedagtes gaan deur my kop. Hy het nou alles wat hy wil hê - wat gaan hy volgende doen? Vir die eerste keer dink ek dat ek mos nie alleen is nie. Ek begin kliphard die Bloed van Jesus oor my pleit. Dit was asof die man kalm word en besef hy doen iets verkeerd. Hy vra my om verskoning omdat hy my seergemaak het. Hy soek toe my kamerjas se gordel om my vas te maak. Op daardie stadium sit ek op die kant van die bed naby my kamerdeur. Ek vra weer of hy asseblief vir my nog water kan bring. Hy maak my voete vas en bind die kamerjas se gordel aan 'n stoel vas. Hy loop toe die gang af om vir my water te gaan haal. Ek probeer om op te staan en val op die vloer. Hy het seker van die gang af die stoel dopgehou. Hy kom terug en help my op die bed en sê dat ek dit nie moet doen nie. Weer stap hy gang af. Ek wag 'n bietjie langer, staan toe weer op, stamp my kamerdeur toe en druk die knoppie dat hy sluit. Ek kon toe met my vinger die paniek-knoppie druk. Dit moes hom laat skrik het en hy slaan op vlug. Hy spring toe oor die muur na die bure se kant toe. Ek druk 'n paar keer die knoppie maar die sekuriteitsmaatskappy daag nie op nie. Ek besef ek sal 'n plan moet maak en iemand bel. Ek haal my selfoon uit, sit my simkaart in en bel die matrone van die hospitaal waar ek werk. Baie gou reël sy vir hulp. Die polisie en die ambulans daag binne minute op. My beserings was nie te erg nie. Net 'n sny teen my voorkop en op my lyf waar hy my gesteek het. Dit was nie baie diep nie. Ek het net baie blou kolle, 'n seer skouer en baie dronk kop oorgehou. Ek is toe na die hospitaal geneem. Na drie dae is ek ontslaan. Die dronkheid was die eerste ruk baie erg, veral wanneer ek van posisie verander het. Dit was omtrent eers na 7 maande heeltemal weg. Later sou ek hoor dat die buur-man daardie spesifieke oggend van die werk huis toe gekom het. Hy het nagdiens gewerk. Hy sien die man, wat hulle tuinman is, daar staan met die yster in sy hand en vra hom hoekom hy daar was. Dit was nie sy werksdag nie. Hy is toe daar weg. Met die polisie-ondersoek kon die buurman hom identifiseer en kon hulle hom in hegtenis neem. Die saak duur nog voort. Waar en hoe sien ek God se Hand in hierdie gebeure? Eerstens het die man my selfoon in my werksak teruggesit en dit tot in die kamer ingebring. Die vuurwapens in die kluis het hy nie eens raakgesien nie. Die kluis se sleutels het hy ook weer op hul plek teruggesit. Hy het my om verskoning gevra omdat hy my seergemaak het en hy was bereid om vir my water te gaan haal. Hy het my naby die kamerdeur vasgemaak, waar ek die deur kon toemaak en sluit. Dit het my van verdere pyn gespaar. My buur-man was ook juis daardie oggend by sy huis en kon die indringer identifiseer. Die Here is so wonderlik! Ek glo Hy was saam my en het my bewaar. Ja, Hy is my Rots en Vesting! By Hom wil ek altyd skuil. 'n Mens kan nie altyd verstaan waarom sulke goed met jou gebeur nie. Ek glo dat hierdie gebeure my ten spyte van alles net nader aan God gebring het. Ek het in die verlede partykeer gedink die Here is so goed vir my, maar ek was nie heeltemal tevrede nie. Ek wou ook, soos ander mense, 'n groot getuienis hê om te vertel. Hierdie is nou my groot getuienis! Ek kan net vir Suid-Afrika se mense sê: Hou vas aan die Here! Hy is getrou en sal jou nooit alleenlaat as jy Sy kind is nie. Al gaan jy deur 'n dal van doodskaduwee, Hy is met jou. Al die lof en eer aan my Hemelse Vader! - Louise Swanepoel |