SING 'N NUWE LIED! |
|
  |
Ons lewe beslis in baie opwindende tye! Ek word gedurig herinner aan die woorde van Spreuke 14:34 - "Geregtigheid verhoog 'n volk maar sonde is 'n skandvlek." Terselfdertyd weet ek ook dat ons as gelowiges nie mense moet aankla by die Here nie, maar as priesters voor die troon moet staan en vra vir vergifnis en verlossing van die mag van sonde. Iets waaroor ek baie opgewonde is, omdat ek weet dat dit die Here se werk is, en omdat ek kan sien hoedat geskiedenis reg voor my oë gebeur, is 'n inisiatief wat genoem word: Sing 'n nuwe lied! Hierdie inisiatief het 'n hele paar jaar geneem om tot 'n nasionale inisiatief te ontwikkel. 'n Groep bidders van Piet Retief het die opdrag by die Here gekry om in spesifieke 'townships' te gaan bid, belydenis te doen en mense se voete te was. Die laaste van hierdie 'townships' was in Soweto. Terselfdertyd het 'n kapelaan in die weermag begin om sy tesis te skryf oor die diensplig-generasie. Mense wat in die 70's en 80's verpligte weermagdiensplig moes doen. Versoening is nie maar net verdraagsaamheid nie. Versoening is 'n diep werk van die Heilige Gees om gelowiges saam te voeg in God se familie as broers en susters. Ons moet mekaar se leefstyl respekteer en waardeer en die meerderwaardigheid, trots, hoog-moed en geneigdheid om ander af te kraak en te verkleineer, te skel en negatief te praat, uit ons menswees kry. Dis slegs die Heilige Gees wat dit kan doen. Nou is daar hierdie inisiatief. Dit het op 7 Mei begin met 'n 40-dae Gebed vir Versoening. Die inisia-tief is gerig op 16 Junie in Soweto. Die ou SAW-veterane het onlangs begin met 'n proses van herstel in die 8 skole in Soweto wat kinders verloor het. Die veterane het besef hulle het nog een kans om die 'oorlog' van die verlede te ontlont en ons land te help red. Daarom het verskeie partye byeengekom: Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, die tradisionele Afrikaanse Kerke waaruit die diensplig-generasie voortgespruit het, die AGS wat op kleiner wyse al begin het met integrasie, die Evangeliese en Charismatiese kerke, die ou SAW-veteraneverenigings, en die nuwe SANDF; leiers soos Adriaan Vlok, Michael Lapsley, generaals en kolonels van die Weermag, en die kerkleiers in Soweto, om 'n inisiatief voor te stel waar ons werk aan versoening. Daar word 'n byeen-koms in Soweto beplan op 11 Junie in Orlando Stadion en 'n kleiner byeenkoms by die Hector Peterson Monument op 16 Junie, om te bely, te vergewe, vry te spreek en ooreen te kom om saam te werk om ons land se jeug 'n billike kans te gee op herstel. Om miskien vir die eerste keer as Kerke regoor die spektrum van ons land hande te vat om 'ons' land en 'ons' mense te help om versoening te bewerk. Ten spyte van dit wat ons sien en hoor van rassisme in ons land, is God aan die werk, op Sy gewone onsigbare manier in die harte van Sy kinders! Ek wil vra of julle sal saambid dat hierdie brose proses van een-wording en versoening sal werk. Dat God ons genadig sal wees en ons nog 'n kans sal gee om die hart van Suid-Afrika te genees. Ons weet almal dat politiek nie die oplossing is nie. Die gebedsgids is beskikbaar om afgelaai te word by www.jwipn.com of julle kan my kontak, dan stuur ek dit per e-pos. Bid dat die proses sal groei en opbou na 16 Desember 2016 - Versoeningsdag, dat ons hierdie dag vir die eerste keer as 'n land saam kan vier deur te bid vir versoening. Sing 'n lied wat elke inwoner van ons land met vreugde en uitbundigheid kan saamsing, sonder die pyn, sonde, skuld en teleurstelling van die verlede. - Elizabeth Jordaan 082 775 3793 bid_vir_elizabeth-help@associate.com |