'N TWEEDE KANS

  Alhoewel Paulus se verwerping Johannes Markus seker diep seergemaak het en hy waarskynlik verantwoordelik gevoel het vir die skeuring tussen sy oom Barnabas en Paulus, verraai die res van sy lewe geen teken van ontmoediging of gebrek aan deursettingvermoë soos toe hy Paulus en Barnabas in Pafos, Siprus, in die steek gelaat het nie. Markus het trouens met groot vrymoedigheid in Siprus gepreek toe hy en sy oom soontoe is nadat hulle Paulus voor sy tweede sendingreis verlaat het.

Dit lyk of God selfs vir Johannes Markus die geleentheid gegee het om sy naam in ere te herstel by Paulus. Die meeste historici glo dat Paulus twee keer in die tronk was: tydens sy eerste gevangenskap het hy sekere vryhede geniet en kon hy voortgaan om te preek; die tweede was strenger en het in sy teregstelling geëindig. Johannes Markus was by Paulus tydens sy eerste gevangenskap en het só 'n goeie indruk gemaak dat Paulus hom later met sy aanbeveling na die Kerk in Kolosse toe gestuur het. Later, toe Paulus die laaste keer in die tronk was, het hy aan Timoteus geskryf: "Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou, want hy kan my tot groot diens wees."

Johannes Markus het uiteindelik saam met Petrus gereis en op aandrang van die Kerk in Rome het hy later die Evangelie van Markus op grond van Petrus se leer geskryf. Petrus het die geskrifte gewaarmerk en dit onder die kerke laat versprei.

Petrus het Johannes Markus later as sendeling na Egipte en Afrika toe gestuur. Hy het deur Libië, Marmorica, Ammonica en die Pentapolis (gebied in Noord-Afrika bokant die Sahara) gereis en die mense oral geleer waar hy kon.

Uiteindelik het hy 'n kerk in Aleksandrië, Egipte, gestig en gelei waar hy 'n paar jaar lank gebly het. Markus se lering dat alle mense vry is in Christus wanneer hulle Jesus as hulle Here en Verlosser aanneem, het die gemeenskap daar begin verander. Die plaaslike heidense priesters se besigheid het begin afneem en sy prediking het hulle so gegrief dat hulle hom begin verafsku het. Kort voor lank het hulle planne begin beraam om hom dood te maak.

Op 21 April 64 n.C. tydens die agtste jaar van Nero se bewind as keiser, het Markus 'n preek oor Jesus se lyding aan die kruis en opstanding uit die dood as sy Paassondagpreek gelewer. Die plaaslike heidenpriesters het hierdie dag gekies om soveel moontlik mense teen Markus op te sweep en te sorg dat hy nooit weer sou preek nie.

'n Groot skare het die kerkgebou met groot hake en toue stormgeloop, die gemeentelede oorweldig en Johannes Markus gegryp. Nadat hulle hom met die toue vasgebind en met die hake gekap en gesteek het, het hulle hom deur die strate tot buitekant die stad gesleep. Sy liggaam het 'n spoor van bloed en vleis in die strate gelaat en teen die tyd dat hulle uit die stad was, was daar nie 'n plek op Markus se lyf wat nie gebloei het nie. Markus het sy gees in die hande van sy Here oorgegee en gesterf...

Sy dood was nog nie genoeg nie. Die priesters wou sy liggaam so erg skend dat hy nie begrawe kon word nie. Hulle het beveel dat daar vuur gemaak moes word om die liggaam te verbrand, maar toe daar skielik 'n misterieuse storm losbars, het die skare uitmekaargespat. Johannes Markus se liggaam het net daar bly lê waar hy gesterf het.

Met die opwinding van die storm het van die lede van sy gemeente Markus se lyk kom haal. 'n Tyd later, toe alles bedaar het, het hulle 'n behoorlike en eerbiedige begrafnis vir hom gehou.

Dit wat in ons oë 'n algehele mislukking is, is selde een in God se oë. Johannes Markus kon maklik moedeloos geraak het omdat sy vrees in Siprus die oorhand oor hom gekry het en hy besluit het dat hy nie geskik was vir die bediening nie.

Deurdat hy teruggegaan het om sy vrese te konfronteer en God te gehoorsaam, het God hom herstel en het hy groter dinge bereik as wat hy waarskynlik gedink het moontlik was.

"MOET JOU NIE ONTSTEL NIE. BLY MAAR NET GLO!"

- Jesus se woorde soos aangeteken deur Johannes Markus (Markus 5:36).

ooo OOO ooo

"God het ons nie geroep om suksesvol te wees nie, net getrou." - Moeder Teresa. Sy het haar lewe aan die armes in Indië gewy (1910-1997). "Dit is nie my vermoë nie, maar my reaksie op God se vermoë wat saak maak." - Corrie ten Boom. Sy het Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog in haar huis in Holland versteek om hulle teen die Nazi's te beskerm (1892-1983).

Uit: Fanaties vir Jesus, Vol. II, CUM, 2004.


Indeks     Index