DIE WOORD WAT GOED ONTVANG WORD...

  Jesus het gesê: "Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het" (Markus 4:24-25).

"And He said to them, Be careful what you are hearing. The measure [of thought and study] you give [to the truth you hear] will be the measure [of virtue and knowledge] that comes back to you - and more [besides] will be given to you who hear (Mark 4:24, Amplified Bible).

Die klem in hierdie Skrifgedeelte val op "hoor". Die gelowige moet reg hoor. Wanneer ons goed en reg hoor wat deur die Heilige Gees aan ons geopenbaar word, sal daardie geopenbaarde waarheid méér en gróter word. Méér Woord en waar-heid sal aan ons toevertrou word. Die mate waarmee ons dit met geloof ontvang, dit hoor, word die maat waarmee ons meet. Volgens daardie maat word weer aan ons gegee.

Ons geloof moet kinderlik en ontvanklik wees. Ons moet onbevooroordeeld luister, sonder kritiek in ons harte. Met 'n oop gemoed moet ons na die Heer toe kom. En hoe meer ontvanklik ons is, hoe meer sal Hy volgens hierdie maat wat ons self stel, vir ons gee.

Ons gesindheid, hóé ons hoor, bepaal hoeveel méér Hy aan ons gaan toevertrou. Daar moet progressie wees in God se openbaring aan ons. As individu of as Kerk behoort ons daarop ingestel te wees om met 'n al groter en groter maat te meet, sodat ons ook met dieselfde maat gemeet kan word en nie beskaamd hoef te staan nie.

Die openbaring wat deur die Heilige Gees in ons harte kom, kan op verskeie maniere plaasvind. Soms kom dit deur 'n besondere preek tot ons. Ander kere kan dit gebeur wanneer ons Bybelstudie doen of stiltetyd hou. Of dit kan wees dat iemand onder bepaalde omstandighede waarin ons ons bevind, 'n sekere Skrifgedeelte vir ons gee om te lees. Dit kan ook gebeur wanneer ons luister na 'n sanger of 'n koor wat 'n geestelike lied sing. Op watter manier dit ook al tot ons kom, laat ons met 'n oop gemoed luister en ontvang wat God vir ons wil sê. Laat hierdie gesindheid in ons wees: "Spreek, HERE, want U kneg hoor" (1 Samuel 3:9).

Dit noop ons om met groot omsig-tigheid met die Woord om te gaan, want daarin vind ons die Godspraak vir onsself op 'n baie intieme wyse. Die besef dat ons meer en meer van Hom kan ontvang wanneer ons daardie Woord wat Hy ons gee, rég ontvang, dring ons om goed te luister. Jesus sê immers: "Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor" (Mark. 4:24).

Met betrekking tot die Woord wat ons in ons harte ontvang (Markus 4:24-25), het Jesus éérs die gelykenis van die saaier aan Sy dissipels vertel (Markus 4:1-20). Die saad kan op vier verskillende tipes grond val. Die saad wat op die goeie grond val, lewer goeie vrug op. Jesus sê: "En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig" (Markus 4:8). Die ideaal is dat ons só goed sal luister en ontvang, dat dit nie net dertig- of sestigvoudig vrug sal oplewer nie, maar honderdvoudig. Dan was die maat waarmee ons meet (Markus 4:24-25) volkome! Want daarvolgens het ons dan ook ontvang.

Jesus sê verder: "Want wie het, vir hom sal gegee word...". Maar dan kom daar 'n waarskuwing: "...en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het" (Markus 4:25). Die persoon wat nie bedag daarop is om goed te hoor nie, sal dan die bietjie wat hy gehoor het óók verloor!

Die woorde van die bekende lied is hier van pas:

Open my eyes, Lord
I want to see Jesus
Reach out and touch Him
And tell Him I love Him
Open my ears, Lord
Teach me to listen

Open my eyes, Lord
I want to see Jesus

© Dr JJ Venter


Indeks     Index