DIE KRAGONDERBREKING!
 
Bekende woorde: "Ag nee! Alweer 'n kragonderbreking!" Ons kan byna nie bestaan sonder krag nie. Byna geen werk kan gedoen word in die moderne werksplek sonder krag nie!

Ons beleef baie frustrasies tydens kragonderbrekings. Baie van ons ouer garde sal onthou hoe ons op plase sonder krag klaargekom het, maar in ons hedendaagse lewe sal dit chaos veroorsaak indien daar geen krag is nie! Dit kan selfs ons land se nywerhede in duie laat stort!

Net so lewensnoodsaaklik is dit vir elke gelowige om aan God se Kragbron gekoppel te wees! Jesus het immers gesê: "Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie" (Johannes 15:5).

In ons daaglikse lewenswandel het ons God as ons Kragbron nodig. Ook ons werk wat ons vir Hom hier op aarde moet doen, kan ons nie doen as ons nie by Hom as ons Kragbron ingeskakel is nie! Reeds in Sagaria 10:12 (Lewende Bybel) sê God: "Ek sal my volk sterk maak, want Ek sal self hulle krag wees, en hulle sal My aanbid. Ek, die Here, sê self dit sal gebeur."

Dan sê iemand oor hierdie selfde vers: "God promises to strengthen His people, and in Zech. 10:12 reveals that this strength comes from God. When we stay close to God, His Spirit enables us to do His will, despite the obstacles. When we stray from God, we are cut off from our Power Source" (Life Application Bible).

Ons kan geleidelik van God wegdryf sonder dat ons dit besef. Dit is dán wanneer die vyand op ons toeslaan en 'n kragonder-breking teweegbring. Ons word kragteloos, maar probeer om in eie krag en met eie menslike vermoëns en wysheid oplossings vir ons probleme te vind! 'n Kragonderbreking het egter toegeslaan en veroorsaak dat ons in stikdonkerte sit!

Sonder God se krag het ons geen antwoorde vir ons probleme nie. Dit is dán dat ons moet terugkeer na God se Woord om die gebroke kragkoppeling te herstel! Ons moet die fout soek. Ons moenie probeer om ons probleme in eie menslike krag op te los terwyl die Groot Kragbron tot ons beskikking is nie!

In Psalm 18:17 staan geskryf: "U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my." Kom na Sy lig toe! Jy hoef nie langer in stikdonker te sit nie! Hy sal jou verseker help! "Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie" (Luk. 1:37). En onthou, saam met Paulus kan ons sê: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee" (Fil. 4:13).

© Dr. J J Venter


Indeks     Index