MET GOD AAN ONS KANT, SAL ONS OORWIN! | |
  |
Saterdag 29 April 2017. Dit is my verjaarsdag! Vroeg-oggend, voor hanekraai, soek ek die Aangesig van die Here! "Praat met my Here, ek wil U stem hoor... Gee asseblief vir my 'n belofte vir hierdie nuwe lewensjaar!" God gee vir my "Met God aan ons kant, sal ons oorwin, Hy self sal die vyande vertrap" (Ps. 108:14). My hart juig en is bly! Wat 'n wonderlike belofte! Op Maandag 1 Mei tref 'n ramp ons so skielik en onverwags soos 'n aardbewing! My man, Neels, en ek, sit agteroor in die motor en ontspan. Ons is saam met ons dogter en gesin op pad met vakansie! Die plaas is verkoop, die bewys van inbetaling is ontvang. Die koper was so haastig om voer en lekke te stuur - hy wou nie wag totdat ons terug sou wees nie. Daarom moes Neels, voor ons ry, eers die 'plaasbestuurder' gaan wys waar hulle die voer moes inpak! By die vakansieoord aangekom, steek die manne die vuur aan, terwyl ek die opdrag kry om gou vir Sam te bel en te hoor hoe dit op die plaas gaan. "Hulle het nie die voer gebring nie! Hulle het 'n leë trok en sleepwa gestuur en ons beeste en kalwers opgelaai! Toe julle gery het, het die witman gesê ons moet die stoor los en die beeste in die veld gaan haal." [Later sou ons tot die besef kom dat die skelm wat die beeste kom oplaai het, eintlik die sogenaamde "koper" was]. Dit voel asof ek droom, dit kan nie waar wees nie! Ek sê vir Neels wat gebeur het... Die vakansie is daarmee heen... Ek moet die koper bel... Die realiteit skop in: 'n Trok met 'n sleepwa het 'n vrag van ons beeste gelaai na 'n onbekende bestemming... Die donker nag vou dubbel om ons toe! In my hart is ek bly dat die Here aan ons kant is! Ek wil die Here loof! In die badkamer buig ek voor Hom. "Dankie dat U ons God is, dat U by ons is!" Ons braai in 'n somber atmosfeer. Ons het vrae sonder antwoorde. Gedurende die ete besluit ons om terug te ry plaas toe. Ons vat hande en bid saam: "Vader-God, ons dank U dat ons U kinders is! Dat U ons uitverkies en afgesonder het en dat U ons U eiendomsvolk gemaak het. Dankie dat U God is en in staat is om te doen wat U sê. Dankie dat ons op U beloftes kan staan! Wat nou met ons gebeur het, is geweldig. Ons is klein, ons weet nie hoe om hierdie saak te hanteer nie, ons gee dit vir U! Behartig tog ons saak! Ons loof en prys U groot en heilige Naam! Vader, waar ons vanaand gaan terugry, hou U hand oor ons! Ons vra dit alles in die Naam van Jesus, U Seun!" Ons pak vinnig. Om 01:31 is ons terug op die plaas. Die koeie staan bulkend en wag vir hulle kalwers... Die draadheining lê eenkant opgefrommel... Neels klop hard aan Sam se deur en hy maak dit oop. "Wat gaan hier aan?" Sam vertel weer sy storie. "Hoekom het jy nie gebel nie?" Hy sukkel die woorde uit: "Ek het gedink..." "Toemaar, ons sal môre praat." Voor hanekraai gaan kniel ek vir 'n ontmoeting met die Here. Ek lê opnuut ons saak aan Hom voor en lees Josua 8. Ons dominee het dit die vorige Sondag gelees toe hy "KRISISHANTERING" behandel het! Die bespreking het uit drie punte bestaan: 1. Jy moet reeds in 'n verhouding met God staan! (Josua 8:1). "Die Here het vir Josua gesê: Moenie bekommerd wees nie." 2. Daar moet 'n plan wees: "Neem al die manskappe met jou saam en trek op teen Ai." Josua moes dus die bevele van die Here uitvoer. 3. Vertrou God. "Ek gee die koning van Ai, sy volk, sy stad, sy land nou aan jou oor." Ek kyk na die drie stappe en bedink dit. Al wat nou vir ons oorbly, is om GOD te VERTROU. Hy weet waarheen Hy met ons op pad is! Daar is geen ander plan nie! Toe ek met koffie kamer toe gaan, is Neels reeds wakker. Daar is vrae: Hoekom? Waarom? Hoekom ons? Hoeveel beeste is gesteel? (Ons het reeds afgeskaal tydens die droogte). Ons word stil voor die Here en lees Ps. 23: "Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie... Hy lei my op die regte paaie tot die eer van Sy Naam..." Dus, ook hierdie pad tot die eer van Sy Naam, al verstaan ons dit nie! Dit word net lig buite toe Neels en Michael uitgaan. Ek dank die Here dat Hy dit so beskik het dat die kinders by ons is. Benhet beman die huis en ek kan ook gaan om by Neels te wees. Na 'n kruis-en-dwars-tellery is bevind dat 18 koeie en 27 kalwers gelaai is. Vyf en veertig stuks vee is weg! Ek gee die inligting deur aan HBF-Veiligheid en ons gaan maak 'n saak van veediefstal aanhangig by die Polisiekantoor. Die SAPD is binne 'n uur op die plaas om verklarings te neem. 'n Kolonel van veediefstal skakel en sê hulle weet van ons saak. Dit lyk soos 'n ou bekende veedief. Die selfoon lui weer: Ons moet dringend kom! Hulle het die beeste in die Vrystaat gekry, maar hulle toestand is onbekend. Die sleepwa se agterwiel het egter in die nag in 'n kanaal beland, dit het 'n tregter gevorm en een groot kalf is doodgetrap. Daar was ook nie 'n laaibank nie en die beeste moes van die trok afspring (omtrent 'n meter hoog). Terwyl Benhet en Michael die agterhoede dek, begin Neels en ek ry. Ons ontmoet die Veiligheids-mense en die man wat die trok bestuur het!! Die Here is goed, ons kry die padaanwysings op 'n uitgeskeerde bladsy! Neels en ek ry vooruit ! Ons ry en ry, 180 km ver. Dis teerpad, grondpad, afdraai op 'n smal bruggie, dan graspad, 'n groot ou wit huis, 'n draai en dan die prentjie: 'n swart vrou en twee jongmanne wat pas 'n bees geslag het! Net die kop, vel en afval lê daar! Neels klim haastig uit. Ek volg hom met my kamera! Hy kyk na die oormerk. "Dis my bees hierdie, waar is die ander?" Sy beduie na die veld toe. "Stuur die manne dat hulle die beeste gaan haal, dit is myne!" Sy slaan haar hand oor haar mond! "Ek het die beeste gekoop vir R10 000.00. Ek moet nog geld inbetaal as ek dit verkoop! Ek wil niks met skelms te doen hê nie, ek is 'n kind van die Here!" "Ons is ook kinders van die Here" sê ek. Die Veediefstal-eenheid en ons veiligheidsmanne arriveer en neem sake oor. 44 beeste word gekry sonder enige beserings! "Dankie Here! U is wonderbaar! Dankie! Dankie! Dankie! Ek loof en prys U groot en heilige Naam!" Die mense wat help met die herwinning van die beeste word al meer! Hulle maak hulle huise en harte oop vir ons. Ons kry koffie en koeldrank! Ons sien engele in aksie wat verbete stry vir ons! Ons voel soos eregaste! Ons kinders bel deurlopend en gee morele steun! "Mamma, so jammer oor wat met julle gebeur het, ek wens ek was daar." Ek dink aan Psalm 23:5 - "U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U oorlaai my met hartlikheid." "Dankie Here, dankie!" Baie dankie aan al my kinders en hierdie gasvrye mense wat so hulpvaardig was. Met 'n groot gesukkel en soektog om iemand te vind om ons te help met die vervoer van die beeste terug huis toe, vind ons daar is iemand in Kroonstad! Tot ons verbasing sê hy: "Mevrou, weet jy, ek moes hierdie beeste vanoggend vendusie toe neem, maar daar was nie 'n laaibank nie! "Here, hoe gróót is U! Ek loof en prys en dank U daarvoor!" 'n Mobiele laaibank word gehaal! Die transporttrok se voorwiel beland ongelukkig in 'n kanaal en daar word ure gesukkel om dit uit te kry. Op 'n stadium ry ek en ons gasvrou dorp toe om koeldrank te koop. Ek gee vir almal, ook vir die 'slag-vrou', hiervan! ("Jesus, U het vir almal gesterf!") Dit word donker en dis yskoud! Ons seuns ry 180 km om warm klere, te bring! Heen en weer 360 km in totaal! Ons skoondogters stuur warm koffie en kos! Ek loof en prys die Here vir die kinders wat Hy ons gegee het! Ek voel verantwoordelik vir die mense wat ons help. Hulle is ure besig. Ek koop aartappelskyfies en "Russians" en koeldrank en deel uit. Dis nag, dit is baie donker en ons werk met flitse. Uiteindelik is die trok uit! Met groot moeite en baie gewillige hande, word die beeste in die donker gelaai! 23:30 is ons op pad huis toe! Om 02:15 is ons veilig tuis! Met flitse word die posisie van die laaibank aangewys en die trok se beeste word afgelaai. Met die terugstoot om die sleepwa in posisie te kry, val dit om soos 'n vuurhoutjiedosie! Ons skreeu bo die slag van die val uit, hardloop om... Daar lê die beeste, klein en groot, soos vetkoeke op mekaar, die een op die ander! Neels neem beheer, hy vat elke bees aan die oor, klap op die boud en sê: "Kom-kom, kom-kom." Hy bring almal uit! "Dankie Vader, U is ongelooflik! Duisend-maal dankie!" Ons loof en prys die Here! Ons het 'n wonderwerk beleef! Die beeste was gesteel, maar die Here het Sy wonderwer-kende krag aan ons geopenbaar! Hy het Sy Woord aan ons bevestig! Met God by ons het ons oorwin, Hy self het die vyand vertrap en die beeste vir ons teruggegee. Ook het Hy baie harte aangeraak! Met hierdie getuienis, wil ons aan Hom 'n dankoffer bring en met blydskap van Sy dade getuig (volgens Ps. 107:22). - Hettie Nieuwenhuis (082 573 2648) |