EK IS NIE KWAAD NIE... | |
  |
Net na die laaste wêreld-oorlog het 'n prediker in die stilte van sy kerk gesit en met God gepraat. Dit was doodstil en skielik het die agterdeure oopgegaan en 'n ouerige man het ingestap met 'n dogtertjie van so twee jaar op sy arm. By die voorste banke van die kerk gekom, het hy haar op die grond neergesit. Die predikant het toe agtergekom dat die dogtertjie verlam is. Die prediker het doodstil bly sit en gesien hoe die man voor die kansel neerkniel en saggies bid. Na 'n paar minute het die man opgestaan, die dungewaste kombersie weer om die dogtertjie gedraai en gereed gemaak om uit te stap. Die prediker het nadergestap en die man met die hand gegroet en homself voorgestel. Wat vir hom so opvallend was, was dat hoewel die ou man se klere vol gate was en die dogtertjie se kleertjies ook verwaarloos was, dit silwerskoon was. Hy vra toe die ouer man of dit sy kleindogter is. "Ja," sê die ou man. Sy is gewond in dieselfde bomaanval wat haar moeder en vader se lewens geëis het. Sy is verlam en bly nou by hom. Sy vrou het 'n hartaanval gekry na die nuus van hulle seun en skoondogter se dood en sy het ook gesterf. Met trane wat oor sy wange afloop, het hy die tingerige lyfie teen hom vasgedruk en vir die prediker gesê sy is al wat hy nog oor het van sy hele gesin. Die prediker het aan die knop in sy keel gesluk en toe vir die ou man gevra wat hy daardie oggend in die kerk kom doen het. Die ou man antwoord met 'n sagte, bewerige stem... "Ek het net vir die Here kom sê ek is nie kwaad vir Hom nie, en dat ek Hom nog steeds baie liefhet." Buite het hy die dogtertjie in 'n stukkende waentjie gelaai en mank-mank die straat afgestap. Ten spyte van sy haglike omstandighede... Ten spyte van sy ooglopende armoede... Ten spyte van sy hartseer en pyn oor al die geliefdes wat gesterf het... Ten spyte van die gesukkel om 'n dogtertjie wat verlam is, te versorg... Wou hy net vir die Here sê hy is nie kwaad oor sy omstandighede nie... En wou hy hê die Here moet weet dat hy Hom nog baie liefhet. Waar laat dit jou en my? As ons omstandighede net effens moeilik raak, dan wil ons nie meer kerk toe gaan nie... Ons wil nie meer die Here dien nie.... Ons twyfel aan Sy liefde.... Ons twyfel aan Sy wonderwerkende krag... Ons wil niks weet van bid en lees en godsdiens nie... Ons praat nie eers met die Here nie... Wat nog om dankie sê vir die seëninge wat ons wel het... Kom ons leer vandag uit hierdie ou man se voorbeeld, en sê vir die Here, ondanks jou omstandighede, dat jy Hom nog steeds liefhet en dat jy glo in Sy woord en Sy beloftes! "Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!" (Filippense 4:4 ). "En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom" (Kolossense 3:17). - Aangestuur deur Past. Danny Strydom, 079 407 1979. |