GOEIE NUUS SÊ DANKIE! | |
![]() |
|
  |
Opwinding was oral te bespeur. Feestelike afwagting... Pragtige blomme op keurig gedekte tafels. Opgewonde gesels. Tafels het gekreun onder allerlei smaaklikhede, maar die fokus was hemelwaarts en die sprekers se boodskappe asook die musiek was inspirerend en het die hartsnare geroer. God se Teenwoordigheid was tasbaar! Dieselfde aand was die kerkgebou ook stampvol. 'n Kaleidoskoop van musikale verskeidenheid. Vriende uit verskeie plaaslike gemeentes het hande gevat en met 'n loflied op hul lippe Goeie Nuus se 21ste verjaarsdag kom vier! Goeie Nuus wil graag almal bedank wat betrokke was by die Oggendtee en die Lofprysingsdiens wat op 11 Mei 2019 plaasgevind het. Wat 'n kosbare en Godverheerlikende dag! God was voorwaar ons Eregas! Met hierdie dag se vieringe wou ons Hom vereer en dankie sê vir soveel jare se getroue voorsiening. Ons eer Hom omdat Hy ons as gesin geroep het om deel te wees van Sy weermag van Woordverkondigers om noodlydendes en hulpbehoewendes te bereik met Sy kosbare Woord wat Waarheid en Lewe in hulle omstandighede kan bring. Ons is opnuut versterk en bemoedig deur soveel mense wat hande met ons neem om voort te gaan om God se Naam te eer en Sy Koninkryk uit te brei. Hou asseblief aan om vir ons te bid dat Hy sal voortgaan om ons te seën, te versterk en ons in staat sal stel om Sy volmaakte wil uit te voer! Die Here seën elkeen van u! - Redakteur, Goeie Nuus |
![]() |