MOEË, GASVRYE GELOWIGES | |
![]() |
|
  |
Was jy al ooit in 'n situasie waar jy met nood of seer gekonfronteer was, geweet het jy moet help, maar self so vuisvoos was dat jy net nie kon nie? Lewensdruk en soms net "te veel" bring jou by 'n punt waar jy net nie die energie en krag het om te help nie! Dit kan selfs gebeur dat jy 'n irritasie ontwikkel vir die situasie wat na jou roep. Ek weet dit klink na 'n flou verskoning, maar ongelukkig gebeur dit wel. Soms wonder ek hoe dit met gasvryheid in ons eie midde gaan. Eens op 'n tyd was dit deel van die hartklop van al die gemeenskappe in ons land. Google jy vandag die woord "hospitality', sien jy dat dit steeds vryelik beskikbaar is, maar teen 'n prys. Jy sien, "gasvryheid" het, soos die meeste dinge, 'n "bedryf" geword. Waar die woord "ubuntu" ons nog 'n paar jaar gelede gefassineer het, het die woord "xenofobie" nou in ons gedagtes kom woon. Gasvryheid is 'n eg Bybelse begrip. Wie vir 'n oomblik teologies daarna kyk, begin verstaan dat ware gasvryheid groei wanneer jy verstaan Wie God is, hoe Sy hart klop en hoe Hy werk. Gasvryheid is beslis nie net nog 'n wet nie, dit is 'n diep geestelike vrug wat blom in die lewe van Geesvervulde mense. En boonop moet ons onthou: "Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!" (Heb. 13:2). In 'n moderne wêreld begin gasvryheid, soos gesê, 'n al skaarser item word. Stephen Covey voer aan dat daar onder ons 'n "skaarsheid-mentaliteit" ontwikkel het. Miljoene mense wedywer om beperkte bronne, soos geld, grond en skoon water. Dit maak ons angstig en laat ons eerder vashou as deel. Ek sê weer, gasvryheid groei wanneer jy God se wese en hart beter leer ken. Toe Jesus Sy eerste wonderteken doen, maak Hy nie verniet 600 liter van die beste wyn nie. Hoekom? Omdat Hy ons iets wil leer van die heerlikheid en oorvloed wat daar in Hom te vind is: "Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana, in Galilea, gedoen. Hy het Sy Goddelike heerlikheid op so 'n manier sigbaar gemaak, en Sy dissipels het in Hom begin glo" (Joh. 2:11). Daar is egter ook iets anders wat ons moet raaksien. Dit bring my weer by die opmerking waarmee ek begin het. In 'n moderne wêreld is dit nie net die bronne wat opraak nie, maar ook onsself en ons tyd wat opgeraak het... Uitgebrande, vuisvoos mense sukkel om gasvry te wees. Dit is sekerlik een van die grootste siektes van ons tyd. Daar is gewoon net nie meer energie oor om te gee nie. Die hartseer is dat dit nie net ons optrede teenoor medegelowiges en vreemdelinge raak nie, maar dikwels die mense baie naby aan ons. Jy sal sukkel om hulle seer en pyn raak te sien en daarop te reageer. Dit gebeur nie omdat ons nie wil nie, maar omdat ons gewoon nie meer kán nie! Vir lank het ek gedink dat dissipline en selfbestuur wesenlik belangik is vir goeie leierskap en sukses in die lewe. Dit is ook. Vandag verstaan ek dat dit ook noodsaaklik is om 'n volgeling van Christus te wees soos Hy dit bedoel het. Mag ons in hierdie dae God se Stem fyn hoor, veral om met die regte dinge besig te raak. God sal nooit te veel van jou vra nie. Veral nie op so 'n manier dat daar niks oor is om aan ander te gee nie. [HOOP vir 'n TYD SOOS HIERDIE, Braam Hanekom, CUM, 2015]. |