'N GELOUTERDE MENSHEID
 
Misdade soos geweld, korrupsie en bedrog is sosiale wanpraktyke wat ook in ons samelewing dikwels voorbladnuus is. Trouens, dit is so algemeen dat dit nie meer vir ons vreemd is nie. Ons is al so afgestomp dat net 'n buitengewone bedrogsaak of menseslagting nog ons aandag trek. Omdat hierdie misdade so algemeen voorkom, is die waardesisteem van ons samelewing nie meer in staat om hierteen weerstand te bied nie. Dit bring mee dat alle waardes in chaos kan verval en dat die samelewing deur 'n geweldskringloop verteer kan word. Al wat dan oorbly, is 'n gemeenskap sonder hoop.

Die profeet Sefanja het juis in so 'n tyd van groot godsdienstige en sedelike verval opgetree. Op godsdienstige gebied is verskillende afgodskultusse in Jerusalem beoefen. Dit het tot sinkretisme aanleiding gegee, waar elemente van hierdie godsdienste vermeng is met die godsdiens van die ware God. Daarmee saam het die verskillende kulturele en godsdienstige invloede ook die waardesisteem van die mense beïnvloed. Van die leiers is so deur hierdie buitelandse gebruike en modes meegevoer dat hulle nie hulle werk na behore gedoen het nie. Allerlei wanpraktyke soos uitbuiting, geweld, bedrog en regsverydeling het plaasgevind.

In hierdie omstandighede verkondig Sefanja God se oordeel oor Sy eie volk, maar ook oor al die ander nasies. Sulke ongerymdhede sal nie deur God geduld word nie en daarom sal Hy alle onreg uitwis. Maar Sefanja preek nie net oordeel nie; hy verkondig ook heil en verlossing vir die wat hulle in nederigheid tot die Here bekeer. Hy bring ook hoop dat God deur die oordeel heen 'n gelouterde mensheid sal skep, 'n mensheid wat vir God 'n loflied sal sing omdat Hy by hulle sal bly en oor hulle as Koning sal regeer.

Watter boodskap het 'n boek soos Sefanja vir ons tyd? Eerstens hou dit 'n waarskuwing in dat God nie onreg en godsdienstige verval duld nie. Hy is steeds die universele Regter wat oor nasies en volke sal oordeel. Ons kan egter ook bemoedig word deur Sefanja se woorde van hoop. Elkeen wat hom in nederigheid tot die Here bekeer, sal gered word!

[DIE BYBEL IN PRAKTYK, onder redaksie van Wil Vosloo en Fika J van Rensburg, CUM, 1993].


Indeks     Index