HALWE HARTE NIE VOLDOENDE NIE! | |
  |
Diegene wat na die Koninkryk van God soek, kan dit nie halfhartig doen nie. Met 'n onverdeelde hart en met groot gedetermineerdheid moet ons God soek. In 1 Kron. 12:33 lees ons van die 50 000 man wat deel was van Dawid se weermag: "Van Sébulon wat op kommando moet uittrek, toegerus vir oorlog met allerhande krygswapens, 50 000 aaneengesluit, en nie met 'n dubbele hart nie..." Die gedeelte wat met "nie met 'n dubbele hart nie" vertaal word, lees letterlik in Hebreeus, "Hulle het nie 'n hart en 'n hart gehad nie"; hulle het nie twee harte gehad nie! In Jakobus 5:6-8 word ons gewaarsku teen dubbelhartige mense (mense met twee harte), want hulle sal niks van God ontvang nie en is soos golwe wat deur die wind heen en weer gedrywe word. Die wat God en Sy Koninkryk soek, moet besluit wat hulle wil doen en dit dan met elke greintjie krag, met geweld, doen. Die Woord leer vir ons dat wanneer die Heilige Gees oor ons kom, ons krag ("dunamis") sal ontvang en met groot vrymoedigheid die Evangelie sal verkondig (Hand. 1:8; 4:23-32). Krag en vrymoedigheid. Hoeveel keer roep die Skrif ons nie op om dapper, vol moed, kragtig en met vrymoedigheid die Evangelie te verkondig nie? In Heb. 4:16 word ons geleer om met vrymoedigheid ("boldness") na die genadetroon te kom, en ons sal op die regte tyd gehelp word. Wat ons in hierdie dae baie nodig het, is Christene, intersessors, wat met heilige geweld en gedetermineerdheid die Koninkryk van God in besit sal neem. Dink daaraan - gelowiges en bidders wat vurig van gees, vol ywer vir die Here, 'n hart gevul met heilige geweld om die Koninkryk van God te sien kom in die donker plekke en lande rondom ons! Diegene wat die Koninkryk van God en Sy geregtigheid soek (Matt. 6:33), moet weet dat alle hel sal losbreek die oomblik dat hy dit doen. Hulle sal met heilige gedetermineerdheid en geweld elke vorm van teenstand en hindernis uit die pad moet vee en oorwin om die Koninkryk van God uit te brei! Niks in hierdie lewe is meer onnatuurlik as om die Koninkryk van God te soek nie. Elke beginsel van die Koninkryk van God is in stryd met die wette en beginsels van hierdie wêreld. Om God se Koninkryk te verkry en uit te brei, vereis heilige erns, heilige krag, heilige begeerte, heilige inspanning, heilige worsteling, en heilige geweld! - Teen die Gety, Bennie Mostert, CUM, 2008. |