HELING OP DIE ASHOOP VAN DIE LEWE



 
Die mens wat innerlike pyn verduur, gaan sit ineen-gedoke binne-in die self-opgelegde kerker van sy innerlike wese. Maar God kom staan deur Sy Heilige Gees voor hierdie kerker en sê: "Ek het jou kom uithaal. Ek wil jou tot My volle Sonlig herstel."

Soos die engel van God vir Petrus uitgelei het uit die gevangenis, so wil God Self elke verwonde mens uit sy gevangenis uitlei, heelmaak, en volkome herstel.

Mense sluit hulself toe in hierdie kerkers as noodmaatreël teen verdere seerkry en pyn. Die antwoord is egter juis om "oop" te maak. Oop te maak vir God, sodat Hy kan herstel en genees!

'n Uitvloeisel van verwonding is dat diegene wat seergemaak is, weer op hulle beurt ander persone verwond. Deur genesing en herstel heen, klim ons egter af van die stoel van pyn, oordeel en veroordeling en klim ons op die stoel van liefde.

Soldate wat vermink is, in letterlike én geestelike sin, kan menslik gesproke nie weer herstel nie. Maar God kan volkome herstel bewerkstellig!

Hoe baie van ons loop dag na dag met innerlike pyn rond? In die eerste en laaste instansie is dit eintlik alles deur die Vyand se toedoen! Soos met die sondeval, is sy doel nog steeds om die mens wat na God se Beeld geskape is, te vernietig! Daarom gebruik hy mense om jou wonde toe te dien.

Op soveel terreine en maniere word terreurdade teen medemense gepleeg. Dink aan verkragting, moord, molestering, diefstal, bedrog en talle meer.

Al hierdie dade is egter nie beperk tot liggaamlike letsels of materiële verlies nie, maar daar is ook sprake van geweldige emosionele en geestelike aantasting. Op allerlei wyses word ons blootgestel aan pyn en lyding en dit veroorsaak dat ons op die ashoop van die lewe beland.

Weet jy wat bring egter die grootste pyn? Wanneer jou geliefdes, mense wat jy baie liefhet en van wie jy dit glad nie verwag nie, teen jou opstaan en jou verwond. Dit is die grootste pyn denkbaar. En die vyand maak terdeë gebruik van hierdie feit! Paulus sê: "...almal (het) my in die steek gelaat" (2 Tim.1:15). Dit was a.g.v. die feit dat hy in die tronk beland het ter wille van die Evangelie. Pyn en verwerping, terwyl hy vir die Here werk en ly!

Dit het ook met Dawid en Jesus gebeur. Let op Psalm 55:13-15: "Want dit is geen vyand wat my smaad nie, anders sou ek dit dra; dit is nie my hater wat hom teen my groot maak nie, anders sou ek my vir hom wegsteek; maar jy, 'n man soos ek, my vriend en my vertroude! Ons wat innig met mekaar omgegaan het, in die huis van God gewandel het met die woelige skare."

Jesus sê vir Judas Iskariot: "Verraai jy die Seun van die mens met 'n kus?" (Luk. 22:48).

Ten tye van sodanige verwerping en innerlike pyn, kom daar 'n wan-konsep rakende God. Wanneer die Vyand toeslaan en hewige pyn, smart en lyding veroorsaak, dan blameer ons God daarvoor! Tog is Hy die Groot Geneesheer! Joh. 10:10 - "Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê."

Die Berower slaan wonde, dan verskuil hy homself agter die wan-opvatting dat dit God is wat blameer moet word. En daarmee hou hy ons in gevangenskap - in pyn en ellende!

Voorts klou ons ook aan 'n gevoel van verontregting. Solank ons daaraan vashou, kan ons nie genesing ontvang nie. Ons sal eers moet vergewe en vryspreek, al is ons ook ten onregte benadeel!

Ware genesing begin by vryspraak. Dan word Jesus se woorde vir ons waar: "'n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en 'n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie..." (Matt.12:20). Jesus beskik oor al die nodige geneesmiddele!

In Jes. 61:1 lees ons dat God Hom gestuur het "om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis."

Slegs God kan die volkome ontsmetting en ontsettingswerk bewerkstellig. Hy kan alle onreinheid uit ons lewe uitneem wat met die toedien van die wond gekom het en dit daarna volkome genees!

Ja, die kosbare bloed van Jesus Christus reinig jou, bedek jou, genees jou, beskerm jou en maak jou volkome vry!

© Dr. JJ Venter


Indeks     Index