EK VRA MAAR NET, PAPPA... | |
![]() |
|
  |
Soos spanning, druk en gejaagdheid daagliks toeneem en soos 'n berg ophoop in werk-situasies, raak 'n mens moedeloos en haal dit gewoonlik op jou gesin uit wat dit allermins verdien. Hoë egskeidingsyfers, ekonomiese krisisse, agteruitgang in die opvoedingsektor en wantroue in leierskap, eis emosioneel baie van enige mens. Namate ouers fisies, emosioneel en geestelik gedreineer word, is dit toenemend moeilik om jou kinders te koester en word hulle dikwels die voorwerp van ouers se woede en frustrasies terwyl die kind beroof word van sy grootste behoefte, nl. ouerliefde. Die gevolg hiervan is woedebuie, swak prestasies, emosionele en leerprobleme. Ouers het hulle kinders lief en wil die beste vir hulle gee, maar kinders voel nie geliefd en gekoester nie omdat ouers nie hulle liefde vir die kind duidelik wys nie! Hulle dink deur aan die kinders se fisiese behoeftes van kos, klere en 'n huis te voorsien, hulle hul kinders liefhet. Hulle sien ongelukkig nie 'n kind se behoefte aan onvoorwaardelike liefde en kameraadskap raak nie! Elke kind het ook behoefte aan fisiese aanraking, oog-tot-oogkontak, onverdeelde aandag, en koestering! Ek vertel graag die tragiese verhaal van 'n 7-jarige dogtertjie wat voor my oë afgespeel het. Haar pa het haar met sy lang, slap, groen BMW afgelaai. Toe hy stilhou, het sy uitgeklim en probeer om die bagasiebak oop te maak om haar skooltas uit te haal. Sy het egter gesukkel terwyl die pa agter die stuurwiel bly sit het en toe op haar begin skreeu het om gou te maak. Hoe meer hy gevloek en geskreeu het, hoe meer verbouereerd het sy geraak en kon sy nie die bagasiebak oopkry nie! En wat gebeur toe? Die pa trek met wilde handgebare weg dat die klippe spat en jaag net voort! Die dogtertjie, sonder haar tas, staan huilend in die straat... Ek sien hoe 'n ander pappa oor die straat stap, haar troos en saam met haar deur die skoolhek na haar klaskamer loop. Nou vra ek: "Pa, waar is jou koesterende liefde vir jou kind? Sou sy nie geborge en gekoester gevoel het as jy sou uitklim uit die motor, haar gehelp het om haar tas te kry en met 'n liefdesgebaar van haar afskeid geneem het nie? Wat gaan in die toekoms gebeur as jy oud en afgeleef is en dalk van haar afhanklik raak? Sal sy respek vir jou hê en mooi en goeie dinge van jou onthou, of gaan sy jou verwerp soos jy haar verwerp het? Deur jou optrede en verwerping kan sy dalk in 'n rebelse tiener ontaard wat later swanger raak. Dit net omdat jy as ouer haar nie gekoester en gehelp het toe sy jou so nodig gehad nie! En sê nou maar net dit was nie 'n "omgee-pappa" wat haar getroos en oor die straat gehelp het nie, maar 'n pedofiel wat sy kans afgewag het om haar in sy mag te kry? Wat sou jy dan vir die res van jou lewe op jou gewete hê?" Dit is goed vir elke ouer om te weet dat ten spyte van al die probleme wat ons daagliks ondervind en waaroor ons moet triomfeer, die lewe ons leerskool bly... Ons as ouers het net so baie om te leer as ons kinders! Ek haal Derek Prince aan: "Lord, let me be a child in Your eyes forever, for he that is humble shall have God as his Guide!" - Hester Green, 076 0796 311 |