DAG EN NAG 21 | |
  |
Gedurende die afgelope 7 jaar het meer as 2 000 gebedswagte wêreldwyd tot stand gekom. Geloofsversterkende getuienis van gebedsverhoring wat gemeenskappe heeltemal verander het, word gerapporteer. Dis onnodig om te vra of gemeenskappe in ons land verandering nodig het, want ten spyte van talle pogings deur organisasies en owerhede, word die situasie in ons land net meer desperaat. Ons glo dat slegs volgehoue gebed tot God ‘n verandering sal bewerkstellig. 1-21 Maart is ‘n baie belangrike periode op die gebedskalender vir die jaar 2001. Ons wil die Kerk landwyd aanmoedig om 24 uur per dag vir 21 dae te bid - ons noem dit doodgewoon Dag en Nag 21. Die gedagte is om minstens 70 dorpe, stede of streke te kry om vir 21 dae, 24 uur per dag, God aan te roep vir hulle eie gemeenskappe en vir die land as geheel. God se belofte is: “Sal God dan nie aan Sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag?” (Luk. 18:7). Laat ons tot God roep vir herlewing in die Kerk, dat daar ‘n draai sal kom in die toenemende geweld en misdaad in die land, dat die Kerk kragtig sal word om die werk te doen waartoe God ons Vader ons geroep het en dat die eer van God in ons land herstel sal word. NUPSA (Network for United Prayer in SA) se mikpunt is dat gemeenskappe, oor kerkgrense heen, hande vat en 24 uur per dag vir 21 dae bid. Deur saam te staan, kan ‘n geweldige gebedsmag gemobiliseer word wat ‘n verskil sal maak. Op 21 Maart kan ‘n gesamentlike byeenkoms van gebed en lofprysing op ‘n sentrale plek in die gemeenskap gehou word. Kerkleiers en gebedskoördineerders wat belangstel om betrokke te raak by die projek kan NUPSA skakel vir meer inligting. Tel: (012) 365 3213; Faks: (012) 365 3214; E-pos: nupsa@global.co.za Ons doen ook ‘n beroep op kerkgroepe, skole en universiteite om vir minstens 7 dae, 24 uur per dag, gebedskettings te organiseer. Jongmense wat belangstel, kan NUPSA by www.24-7prayer. com besoek. |