UIT DIE ASSE VAN ‘N STAD...
 

Yoshiko Taguchi

Hoe min weet ons tog van die verskrikkinge van moderne oorlogvoering, van die verwoesting en lyding en bloed, van duisende wat lê en kerm en roep om hulp - hulp wat nooit kom nie!
Daardie môre van 6 Augustus 1945 het die 15-jarige Yoshiko Taguchi soos gewoonlik vroeg opgestaan om die voorstedelike trein skool toe te haal. Oral was die stad aan die roer: mans was op pad na hulle werk, vrouens het hulle kinders kos gegee, fabrieks-rook het oor die industriële gedeelte van die stad gehang, en die radio het mense aangemoedig om nie hulle plig te versaak in hulle land se oorlogspoging nie.
Om agtuur daardie môre het die enkele Amerikaanse B29-bomwerper, die Enola Grey, op die horison van Hirosjima verskyn. Baie mense het opgekyk toe die sirene begin loei, maar min het eintlik die moeite gedoen om na die bomskuilings te gaan. Hulle het gedink dis maar net 'n vliegtuig wat weerkundige opnames maak. Buitendien was dit die besigste tyd van die oggend met die meeste mense haastig op pad na hulle werk. Die bomwerper het eenmaal om die stad gesirkel, 'n klompie lugafweerkanonne het lusteloos begin skiet, en die vliegtuig het hoër geklim.
Toe, klokslag 08:15, het die kaptein van die bomwerper die bevel gegee dat die wêreld se eerste atoombom oor Hirosjima afgegooi moes word. Daar was 'n verblindende ligflits aan die hemel. Toe het dit gelyk asof geboue na mekaar toe gesuig word en betonstrukture het soos blokkie-huisies inmekaar begin tuimel. 70 000 mense is op slag dood. Nog 70 000 was ernstig verwond. Bo-oor die stad het die nou so bekende rook-paddastoel gevorm.
Yoshiko Taguchi was besig om die bladsy van 'n boek om te blaai toe die gebou rondom haar aan die brand slaan. Eenmaal het die gebou geskud, en nog 'n maal. Toe het dit met 'n oorverdowende slag ineengestort terwyl skroeiend warm lug stukkende bak-steen soos stofdeeltjies na 'n onbekende oord gesuig het. Yoshiko was onder die puin toegeval en baie ernstig beseer. “Help my," het sy geroep, "enigiemand, asseblief, help my!" Eindelik het 'n reddingspan haar gevind. Daardie nag het sy op die wal van die rivier buitekant die stad deurgebring, tussen dooies en sterwendes, tussen kermende kinders wat na hulle ouers roep. Hirosjima was een smeulende puinhoop. Net ‘n koorsige rooi gloed in die donker. Eers ‘n week ná hierdie nag kon ‘n verpleegster aan Yoshiko aandag gee. Haar wonde wat reeds septies geword het, is verbind en 16 glasstukke verwyder. Intussen het Yoshiko moeite ondervind om te eet. Welmenendes het haar met stukkies brood gevoer, maar dit het meesal teruggekom. Haar neus het aanhoudend gebloei en haar hare het begin uitval. Yoshiko was een van die slagoffers van radio-aktiewe bestraling. Sy het gedurig 'n hoë koors gehad en het inwendig begin bloei. Sy was aan die sterf en het dit geweet. Die gedagte aan die dood wat kom, het haar in haar koorsdrome laat uitskreeu van vrees. Toe skielik het die woorde van 'n godsdienstige lied wat hulle dikwels by die Sendingskool gesing het, in haar gedagtes gekom:
God is our refuge, our refuge, and our strength. In trouble, in trouble, a very present help. Sy het nie geweet dat dit op 'n Bybelteks gegrond was nie. Trouens, as leerling aan die Sendingskool het sy nie veel van die Christene gedink nie. Die geestelike liedere het sy bloot werktuiglik saamgesing. Die Christendom was vir haar 'n rare soort godsdiens, 'n godsdiens van 'n Man aan 'n kruis - 'n Man wat Homself nie eens kon red nie, maar wat darem die wêreld wou red! Nou het die woorde van die lied oor en oor in haar gedagtes gemaal: "God is 'n toevlug en 'n sterkte. As hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef" (Ps. 46:2). "Sê nou maar," het sy gedink, "sê nou maar dit is so! Dat dit tog waar is wat die onderwysers aan die Sendingskool geleer het, dat Jesus werklik God is en dat Hy werklik opgestaan het en leef, dat Hy werklik mense gesond maak soos hulle sê Hy dit baie jare gelede gedoen het...Sou hierdie God kon hoor as sy roep? Sou Hy haar kon red? Sou Hy haar kon gesond maak?"
Sy het nie geweet hoe om te bid nie. Sy het gesien dat Christene hulle oë toemaak, dat sommige van hulle hardop bid, maar dat ander se lippe net effens beweeg. "Ek gaan dit doen," het sy gedink, "ek gaan my oë toemaak en met Hom praat. As Hy God is en lewe, sal Hy my hoor." Sy het haar oë gesluit en 'n desperate gebed uitgestotter dat God tog moet sien, dat Hy tog moet hoor, dat sy baie pyn het en bloei, dat sy weet sy gaan sterwe en bang is vir die dood, dat Hy haar tog moet gesond maak, of ten minste net die pyn stilmaak. Sy het onthou dat sy "In Jesus Naam" moes vra, soos sy die Christene by die skool hoor bid het. Yoshiko vertel dat daardie gebed onmiddellik verhoor is. Haar vrees was skielik weg en daar het vrede oor haar gekom. Sy was intens daarvan bewus dat God gehoor het en dat Hy naby was. Sy het met die Ewige, die onveranderlike Toevlug en Sterkte kontak gemaak! Binne twee maande het die bloeding opgehou, kon sy weer normaal eet, en is haar wonde genees! Rondom haar het mense dag vir dag by die dosyne gesterf, maar sy was volkome gesond. Vandag nog praat Yoshiko met die grootste verwondering van daardie genesende aanraking van God toe die dood sy skrikbewind in Hirosjima gevoer het. Sy sou daardie wonderwerk nooit vergeet nie! Hiervandaan sou sy geen steen onaangeroer laat om meer van hierdie wonderlike God uit te vind nie, 'n God wat waarlik leef, wat hoor en genees, die God wat sy in haar benoudheid beproef het. Sy het by 'n Christelike Kollege ingeskryf en nadat sy haar studies voltooi het, haar dienste vir die sending in Japan aangebied. Die feit dat miljoene van haar landgenote nie die God wat sy beproef het, geken het nie, het haar aangegryp. In 1959 is sy na Seattle in die VSA om verder te studeer en om haar veral op intensiewe studie van die Heilige Skrif toe te lê. In 1963 is sy terug na haar vaderland as voltydse werkster van die Kirisutosha-Gakusei-Kai, die Japannese Christen-Studentevereniging, omdat sy gevoel het dat die universiteitstudent die sleutel tot 'n nuwe bedeling in Japan hou. Sy het ondervind dat Japannese oor die algemeen baie swaar van hulle ou historiese godsdienste en gewoontes afsien, veral die studente. Die opkoms van die Marxistiese denke onder die Japannese jeug en die sterk beweging na links in die laaste aantal jare, het haar werk nie makliker gemaak nie. In sommige kringe word sy as 'n verraaier beskou, 'n aanhanger van 'n Westerse volksvreemde godsdiens, 'n dromer van drome en 'n verskaffer van geestelike "opium vir die volk", soos Karl Marx die Christendom genoem het. Aan hierdie mense het Yoshiko net één antwoord: "Ek verkondig aan julle wat ek self ervaar het, 'n God wat sien en 'n God wat hoor, 'n God wat leef en 'n God wat genees, 'n God wat by my was toe ek besig was om my dood te bloei en toe my hare uitgeval het weens akute bestraling. Toe ek beangs was en aan die sterwe, was Hy dáár, by my. Hy is 'n Toevlug en 'n Sterkte. As Hulp in benoudhede het ek Hom in hoë mate beproef. Hy het my nie teleurgestel nie. Hoe kan julle betwyfel wat ek self belééf het?"
'n Joernalis wat hierdie merkwaardige Japannese vrou ontmoet het, Eileen Guder, vertel dat 'n mens werklik die dinamiese teenwoordigheid van God in Yoshiko se lewe kan aanvoel, dat jy onmiddellik weet jy het met iemand te doen wat met die Ewige God in aanraking was. In haar daaglikse konfrontasie met Japannese intellektuele wat die Christendom bevraagteken, staan sy soos 'n ligbaken in die storm, 'n lewende getuie van 'n God wat leef!
[Uit: 'n Vrou en haar God - I L de Villiers]

Indeks     Index