GOD SE TROUE SORG
EN VOORSIENING
  Ds. Willem Kok, Nederduitsch Hervormde Kerk, Potchefstroom Gemeente.
’n Mens word maklik moedeloos wanneer die nood jou oorval. Jy word doodgewoon bang as jy daaraan dink dat jy jou inkomste kan verloor of dat jy met jou geld nie meer alles kan bekostig wat jy nodig het om van te lewe nie. Vrees pak jou beet as jy in gevaar staan om al jou aardse besittings te verloor.
Ons het omtrent almal baie gespanne mense geword. Spanning vreet jou op, jou maag trek op ’n knop en gou is jy chronies siek. Ons jaag boonop die spanning aan met ons gejaag na wind. Wat gaan van my word as ek nie self kan voorsien in my behoeftes nie? Dan het die rand se waarde ook nog verminder en kos en klere en alles wat ek nodig het, word voortdurend duurder. Ek kan nie bekostig om te lewe nie, maar die ergste is, ek kan ook nie bekostig om dood te gaan nie!
Ons alledaagse praatjies is morbied, alles behalwe opbouend en getuig waarlik nie altyd van opregte geloof nie. Daarom dat ons ook maar met moeë tong - slepend en lusteloos - “Prys die Here” soos ’n klaaglied sing.
Ons negatiewe praatjies en moedeloosheid oor die toekoms het ook ’n uitwerking op ons kinders. Hulle sien ons voorbeeld en hoor wat ons sê. Wat sien en hoor hulle? Dat ons God nie vertrou nie! ’n Mens wat nie meer God se bemoeienis met jou raaksien en oor Sy wonderdade praat en Hom prys vir Sy Koningsheerskappy nie, begryp God se barmhartigheid en liefde in Jesus Christus nog nie. So ‘n persoon het nog nie geleer om homself totaal in God se arms te werp en Hom vir alles te vertrou nie. In Ps. 146 loof die digter die Here elke dag vir sy onbeperkte en ondeurgrondelike Koningskap wat geld vir alle tye en alle mense. Hy verrig dade van mag, liefde en goedheid, van verlossende regverdigheid. Sy Koningskap is groot en majestueus, maar ook intiem en persoonlik. Hy het mag om elke individu te red, is genadig, barmhartig, lankmoedig en vol liefde.
God help verdruktes, armes, bevry gevangenes, is by bedroefdes en sorg vir vreemdelinge, weeskinders en weduwees. Hy het mense wat Hom opreg dien, lief, maar die goddelose verdelg Hy. By die aanhoor van hierdie genade en troue sorg van God, kan jy nie anders as om Hom, solank jy leef, te prys nie!
God sien ons nood raak en sal voorsien in elke behoefte. Om God te vertrou, beteken nie passiwiteit nie. Met die gawes en talente wat Hy jou gee, moet jy woeker en Hy sal jou mildelik seën en voorspoedig maak. Met jou nood moet jy voor Hom buig en Hy sal jou bemoedig, versterk, ondersteun, beskerm en aan jou reg laat geskied. Maar Hy wil ook deur ons voorsien aan hulle wat minderbevoorreg is.
Die onmeetlikheid van God se barmhartigheid en liefde word aan ons in Jesus Christus geopenbaar. Ja, God sien ons ook in ons sondenood raak. ’n Mens wat dink dat ’n tekort aan aardse middele of liggaamlike nood jou enigste nood is, sal gou in die geloof moedeloos raak. God se liefde en barm-hartigheid sou egter onvolmaak wees as Hy net vertrou kon word vir die aardse.
Die kruis van Sy enigste Seun is die hoogtepunt van sy liefde, ongeken, onherhaalbaar. Ja, Hy sorg ook vir ons geestelike en ewige lewe. Omdat Hy ons liefhet, red Hy ons. Geen mens kan dit vir ons doen nie. Vir ons redding is ons net op Hom aangewese. Wie in Hom glo, op Hom vertrou, en Hom liefhet, is van Sy redding verseker.
As God dan barmhartig is om ons van ons sondenood te red, waarom sal ons twyfel en bekommerd wees oor dinge wat tydelik en stoflik is? “Wie op die Here God vertrou, het seker nie op sand gebou.” Christus dra ons deur Sy krag: in ons huise, werksplekke, oral. Hy is ons Rots en Redder. Hy laat ons waarlik leef en maak ons bly. Daarom wil ons Hom dankbaar dien deur self barmhartig te wees en ons medemens in nood by te staan en met Sy blye boodskap van genade en redding te bemoedig. Dan wil ek sing en die Here prys. Ek wil ’n lied sing wat altyd weer nuut is, ‘n lied van God se mag en troue sorg. “...ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.”

Indeks     Index